FRANS VENTER — BEFAAMDE SKRYWER MET DIEP WORTELS IN DIE JOERNALISTIEK

Soos verskeie ander skrywers van naam, het F.A. (Frans) Venter  sy loopbaan as joernalis begin. Trouens, hy het goed 25 jaar sy brood meestal by koerante verdien en eers later voltyds begin skryf.

In sy pragtige boek Kambrokind (eers uitgegee deur Tafelberg en in 2021 heruitgegee deur Protea) vertel hy van sy kinderjare. Hier aan die einde is daar gelukkig ‘n snarsie oor sy loopbaan. Ongelukkig nie oor sy studentelewe nie, waar hy as ondersteuner van die smelterregering van genls. Hertzog en Smuts (en studentekorrespondent van Die Suiderstem) in botsing gekom het met die latere eerste minister en president John Vorster. En hoe hy toe maar sy nagraadste studie laat vaar het.

Hy kry toe werk by die einste Suiderstem, “waar ek moes skryf oor mense en die dinge wat hulle doen”. Daar moes hy soms “ter wille van die koerant in die donker hole … rondsnuffel”. Die stryd tussen Die Burger en Die Suiderstem was hewig, al het Die Burger sy konkurrent se menings geïgnoreer.

‘n Voorblad van die middagblad waar Frans Venter twee maal gewerk het.

C.F.J. Muller skryf in Sonop in die suide dat die stigting van Die Suiderstem in 1936 nooit Die Burger se posisie bedreig het nie; die blad was toe reeds “goed gevestig” en Die Suiderstem kon nie Die Burger se “afgerondheid” ewenaar nie. Maar dit was ‘n ander stem.

In ‘n “naberig” vertel Venter: “Die stad het my lank vasgehou. Eers die Kaap — agt jaar lank. Die opwinding van die koerantlewe, van eie geld verdien, van elke dag se nuus, van ‘n wêreldoorlog en die Hertzog-Malan-Smuts-politiek het my laat uithou.” Dit was duidelik nie ‘n maklike stryd nie.

Die Karooseun het ‘n “vreemdeling” gebly. Toe vlug hy na die “boerestad” Pretoria, ook ter wille van ‘n beter verdienste.

Hier by Die Volkstem, wat hy nie by die naam noem nie, het hy by genl. Piet Joubert se ou lessenaar gesit en “gehelp koerant skryf”.

Hy was tevrede, want Pretoria was (anders as die Kaap) “droog en warm, oud en beskeie, met die naklanke van die Boereoorlog toe nog vaagweg hoorbaar. Goeie, nederige mense.”

“Maar  die ou koerant waar ek gewerk het, het bly vassteek in die vervloë tyd van ‘n Engelenburg, Preller en Eugène Marais. Hollandse lettersetter het vir my voorgesê hoe ‘n mens Afrikaans moes skryf. Ek het begin voel soos ‘n nuwe speek in ‘n ou wiel … In die muwwe gange van die ou koerantgebou het ek ál meer ontuis gevoel.”

Die Volkstem het inderdaad ‘n lang aanloop gehad. Gestig in 1873 het dit onder effe ander name voortgeleef tot in 1952. Toe was Venter al lankal terug Kaap toe waar hy weer by Die Suiderstem aangesluit het.

Hy vertel: “Van die persgalery in die Volksraad het ek die voorreg  gehad om te aanskou hoe die reuse worstel om van Suid-Afrika ‘n beter land te maak. Smuts Hertzog, Malan Havenga …”

Toe kom ‘n wekroep uit Windhoek. Kom word redakteur van Die Suidwes-Afrikaner, die Verenigde Party se mondstuk in Suidwes, wat toe as deel van Suid-Afrika bestuur is.

Die blad waarvan Venter redakteur was.

“Dit was goeie, vol jare, maar met verloop van tyd het ek gevoel hoedat my klere te klein word in Suidwes. Ek het ‘n ‘dead-end-kid’ geword in my beroep.”

Intussen het Die Suiderstem in 1950 gesluit — ondanks sy taamlik suksesvolle tydskrif, Naweek, en medewerkers soos Uys Krige en akademici soos prof. Fransie Malherbe. Die Nasionale Party-propaganda van Die Burger en die golf van Afrikanernasionalisme ná die oorlog het Unie-Volkspers (en daarmee saam Die Suiderstem) gekelder.  

Die beloftes uit Johannesburg het die Venters oortuig om weer grootstad toe te trek, waar hy in 1952  inligtingshoof van die Verenigde Party geword het. Hy sluit vervolgens aan by Blaar Coetzee se uitgewery (Tafelberg, wat later aan Nasionale Pers verkoop is) en word redakteur van die populistiese Fyn Goud.

Maar uiteindelik was die Goudstad vir Venter soos ‘n “ryk stiefma wat my voldoende voed en klee, maar nie by die hart uitkom nie”. So kom dit dat die joernalis-skrywer terugkeer na sy pa se plaas in die Noordweste. Daar sou hy weens gesondheidsredes nie enduit bly nie. ‘n Boerdery by Vredendal het wel later gevolg (en die pragbundel Die middag voel na warm as).

Voltydse skrywer was Venter nou en het die aangrypende Swart pelgrim en die Groot Trek-tetralogie gevolg. As skrywer het hy vele ontspanningsverhale onder verskeie skuilname geskryf, onder andere Meiring Fouché en René Stegman. As Meiring Fouché het hy die Woestyn-avontuurreeks geskryf en boonop ná Braam le Roux se dood voortgegaan met die Swart Luiperd-reeks. 

Volgens een bron het hy sowat negentig sagtebandboeke (ligter leesstof) en veertig hardebandboeke geskryf. (Later sou die “hardebandboeke” ook in sagte band herdruk word.)

So geoefen was hy later dat hy soms die ligte (resepmatige) boekies sommer direk in ‘n diktafoon (‘n soort klankopnemer) gedikteer het terwyl hy op sy bed lê! (So het hy my in 1977 in ‘n onderhoud vertel.)

Laat in sy lewe het beroerte hom neergevel. En toe hy weer gesond genoeg was, skryf hy die roerende Die keer toe ek my naam vergeet het.

F.A. Venter is seker een van die mees gelese skrywers in Afrikaans, maar  as mediamens onbekend. Tog, by die koerante het hy sy onbetwisbare skryftalent geslyp. En onsuksesvol ‘n meer gematigde politiek bepleit.

Dit verdien om onthou te word wanneer die geskiedenis van Afrikanerjoernalistiek verkeerdelik as ‘n suiwer nasionalistiese projek beskou word. — Johannes Froneman

Geplaas Desember 2023.