EERSTE MENSE OP DIE MAAN WAS BUITENGEWONE NUUS

In 1969 het die eerste reis na die maan suksesvol verloop en het Neil Armstrong die eerste mens geword om op die maan te loop. Suid-Afrikaanse koerante het ook buitengewone aandag aan die gebeure geskenk, soos uit hierdie voorbeelde blyk.

Daar was groot afwagting terwyl die oomblik van die landing nader gekom het. Die Express het soos gebruiklik reeds die Saterdagaand op straat verskyn.

Die maanlanding het op die Sondag gebeur, wat die oggendkoerante die groot storie gegee het.

Twee ruimtevaarders loop op die maan — ‘n voorbladberig vir die middagkoerante en laat uitgawes van oggendkoerante soos Die Transvaler.

Foto’s was van ‘n baie swak gehalte, maar het ‘n groot opskrif in hierdie latere uitgawe van die Rand Daily Mail gekry.

Die terugtog was vol gevare. Vandaar hierdie opskrif in Die Burger.

Landstem het met tipiese hiperbool (kyk hooffoto) die gebeure as die grootste in die geskiedenis beskryf. Maar die hoofberig (onder) het ‘n ernstige toon gehad met teologiese vrae oor die implikasies van die maanlanding.

Die maanlanding is wêreldwyd op televisie gevolg, maar nie in Suid-Afrika nie. (Ons het eers sewe jaar later televisie gekry.) Daarom het sommige oorsee gevlieg om die gebeure te volg.

Sommige Suid-Afrikaners het die maanlanding wel op kring-TV gevolg — wat aanleiding gegee het tot hierdie spotprent deur Ivanoff in Dagbreek.