DIT LYK HOPELOOS, MAAR HOOP VIR MEDIA BESKAAM NIE

Joernaliste bly in die spervuur — vandag dalk meer as ooit. Die redes is baie, maar een is dat die tydgees bepaal dat almal se stem tel en dat jy niks hoef te glo nie. Verder skep sosiale media en digitale nuusmedia die geleentheid vir almal om ‘n mening uit te spreek. Onkunde word daagliks ten toon gestel.

Die kwessie van eienaarskap duik ook telkens op. Niks nuuts daaraan nie. Gaan lees hoe individue en belangegroepe (insluitende regerings!) in ons verlede koerante onderhou het ten einde hul idees te bevorder.

Dit is ‘n voortgaande stryd wat deur die jare tot allerlei modelle (of “antwoorde”) aanleiding gegee het. Daar sal seker nooit ‘n finale antwoord kom nie. Intussen doen die nuusmedia sy werk — soms goed, soms swak.

En soms duik daar ‘n woord van wysheid op. Soos die onderstaande bydrae van die ervare joernalis Joan van Zyl. Sy skryf op die Facebookblad Nagkantoor:

“Hier is pas weer gal gebraak oor die ‘joernaliste’ … Toevallig is ek op die oomblik besig met opleeswerk wat aan die onderwerp raak-raak.

“Meer as die helfte van mense wat aan ʼn Reuters-peiling deelgeneem het, vertrou nie joernaliste nie. Sosiale media word beskryf as toksies teenoor joernaliste – so erg, dat sommige joernaliste daardeur getraumatiseer word. Hul werk is reeds uitdagend en uitputtend en heeltyd op ʼn mespunt, en nou moet hulle hiermee ook gekonfronteer word.

“Dis nie ʼn nuwe ding nie, maar dis meer intens as voorheen.

“Navorsing wys joernaliste word daarvan verdink dat hulle bevooroordeeld is, omkoopbaar, mondstukke van groot korporasies, manipulerend, manipuleerbaar deur politici, en dat hulle hul eie roem bo hul plig stel. Dan praat ons nie eens van slordig en onakkuraat en lui om feite te kontroleer nie.

“Navorsing wys ook dat die meeste mense wat joernaliste skepties betrag, mense is wat ook die nuusmedia as geheel nie vertrou nie. Maar selfs mense wat die nuusmedia vertrou, is soms wantrouig oor joernaliste.

“ ‘Vertroue in die nuusmedia’ is ʼn baie vae begrip. Dit beteken gewoonlik ‘vertroue in die tradisionele media’ – wat dikwels die legacy media genoem word.

“Mense wat nie die nuusmedia vertrou nie, is oorwegend mense wat dit nie gebruik, verstaan of ken nie, oftewel mense wat nie juis in nuus belangstel nie. Ander het wel media wat hulle vertrou, maar dis nie die tradisionele media nie.

“Jong mense kry sowieso die oorgrote meerderheid van hul inligting van sosiale media en platforms af eerder as van tradisionele media.

“Dis ook interessant dat dit voorkom asof konserwatiewe mense meer skepties oor die tradisionele media is as liberale mense. Dis seker nie ʼn verrassing nie – die tradisionele media was veral in baie Westerse lande tradisioneel liberaal, en word ook ʼn bietjie as elitisties beskou.

“Intussen het daar natuurlik baie konserwatiewe media bygekom, wat giftig oor die legacy media is.

“Van die oplossings wat vir die probleem voorgestel word, is dat tradisionele media minder elitisties moet wees. Nuuskantore moet meer divers wees, menings moet meer divers wees en veral gemarginaliseerde groepe moet ernstig opgeneem word.

“Die media het die geleentheid, veral op platforms, om meer deursigtig te wees. Hulle kan verduidelik hoe ʼn storie ontstaan en nagevors is. ʼn Mens kan die joernalis se bio byvoeg. ʼn Mens kan direk in die kommentare omgaan met mense wat kritiek lewer. Jy kan jou foute ruiterlik erken en regstel. Jy kan meer moeite met gehalte, feitkontrolering en indiepte-joernalistiek doen.

“Nog ʼn oplossing is om nader aan ʼn mens se gehoor te beweeg – dis ook makliker danksy platforms. Ander uitreikgeleenthede word voorgestel om joernaliste, media en gehore meer bekend met mekaar te maak. Podsendings en video’s is nog ʼn oplossing – dit stel ook gehore aan die joernaliste bekend en help vertroue skep.

“Dit gaan alles egter beteken dat ons joernaliste ʼn bietjie nederiger moet word en met ʼn oper gemoed na kritiek en ons gehore moet luister. Die dae van ‘gehalte is belangriker as gehore’ is oor en uit.

“Media-eienaars kan meer doen om hul joernaliste volle onafhanklikheid te gee, en hulleself so te struktureer dat dit nie skeptisisme uitlok nie.

“Helaas kom dit vir my voor asof al hierdie oplossings net pleisters is wat op ʼn gapende operasiewond geplak word. Die ekstra inligting wat media publiseer in ʼn poging om deursigtig te wees, word byvoorbeeld skaars gelees.

“Die groot probleem is dat die grootste vyande van vertroue in die media en joernaliste vandag buite joernaliste se beheer is. Hierdie vyande is politici en die platforms.

“Politici het danksy platforms die vermoë om alle media verdag te maak waarvan hulle nie hou nie. Gehore wat met die politikus saamstem, vertrou dan ook nie die media wat deur die politikus sleggemaak word nie. In Amerika was dit een van die faktore wat tot uiterste polarisering van politici en media gelei het. Die gedurige vingerwysings na CNN is ʼn baie goeie voorbeeld.

“Platforms word deur GrootTegno beheer en die media kan min daaraan doen. Aan die een kant gee dit hulle blootstelling, aan die ander kant knou dit mediavertroue. Dis omdat platforms gedurig hul beleide verander, omdat nuus op platforms oor die algemeen as minder geloofwaardig beskou word, omdat media-handelsmerke op platforms ‘verdwyn’, en omdat platforms ʼn toksiese omgewing skep waarin media en joernaliste sleggesê kan word. Navorsing wys mense glo bv. dikwels eerder die kommentare as wat hulle die artikel glo waarop die kommentare gelewer word.

“Daarby het die digitale ontwrigting van nuuskantore ook veroorsaak dat die media gefragmenteer het en dat enigeen wat wil, nou ʼn joernalis kan wees. Dit beteken nie alle onafhanklike joernaliste is onbetroubaar nie, ek volg self ʼn hele paar. Dit beteken net dat daar minder checks en balances op hulle gehalte, akkuraatheid en billikheid is as wat daar bv. by tradisionele media is.

“Dit lyk vir my na ʼn hopelose situasie, en dan het ek nog nie eens gekyk na die rol wat AI kan speel om hierdie vraagstuk beter of slegter te maak nie. Daar word o.m. voorspel dat 90 persent van internetinhoud oor ʼn paar jaar deur AI geskep sal wees.

“Dis waar my outydse hoop inskop dat mense in ʼn stadium so gatvol en verward gaan wees deur die oormaat inligting, en hul onvermoë om te midde van die chaos vas te stel wat is waar en wat nie, dat hulle weer na “kurators” van inligting gaan soek – soliede, betroubare, hardwerkende en onstuitbare nuusmedia met joernaliste wat hulle kan vertrou om die waarheid te praat en billik te berig.

“Wie was dit wat gesê het: ‘One can dream, can’t one?’”