DIE MEDIAMENSE OP ALBé GROBBELAAR SE HISTORIESE ALMANAK

Reeds vir dekades is radioman Albé Grobbelaar die skrywer en aanbieder van Historiese Almanak — eers op die ou Afrikaanse radiodiens van die SAUK, deesdae soggens op Pretoria FM. Hier plaas ons enkele van die rubrieke wat spesifiek oor mediamense handel, of dan mense wat ‘n draai in die joernalistiek gemaak het. Met groot waardering aan Albé vir die vriendelike vergunning.

Hoe Historiese Almanak begin het

Op 2 Februarie 2022 vertel Albé Grobbelaar iets oor die ontstaan van hierdie gewilde radiorubriek:

Baie min mense onthou dit nog, dis darem al vier dekades gelede. Maar ek sal dit nooit vergeet nie. Daar was eers die lang aanloop, en toe uiteindelik my kans om die radiorubriek Historiese Almanak saam te stel en aan te bied. (Dit is in die 1980’s en vroeë 1990’s op die aktualiteitsprogram Monitor, op die Afrikaanse radiodiens, vandag se RSG, uitgesaai.)

Daar wás in die tyd voordat ek dit oorgeneem het ’n kort stukkie elke oggend op Monitor wat onder die titel Historiese Almanak aangebied is. Dit was (soos ’n mens vandag nog daagliks in die koerante sien) letterlik net die noem van enkele gebeure wat aan die betrokke dag se datum gekoppel kon word. (Sapa het dit per teleks verskaf, as ek reg onthou.) (Kyk artikel oor Sapa by https://mediamense.com/sapa-nuusbron-vir-koerante/ of soek op elders op hierdie afdeling.)

Ek het gevoel dat ’n mens meer daarvan kon maak en het toe ewe voortvarend vir my baas by die SAUK in Kaapstad, Johan Stemmet (níe die sanger nie) gesê dat ek dit graag sou wou oorneem. Sommer gou. Binne ’n paar weke.

Ek onthou nog hoedat hy my aangekyk het. “Enigiemand kan ’n praatjie skryf en aanbied,” het hy gesê. “Maar kan jy 5 dae per week, 52 weke per jaar, iets sinvols saamstel wat aan elke dag se datum gekoppel kan word?” Die wind was vinnig uit my seile. “En jy besef natuurlik dat jy dit in jou vrye tyd sal moet doen? Hier’s te veel ander werk dat ek jou in werkstyd kan toelaat om rond te sit en boeke te lees!”

Dit was tóé dat ek besef het dit is ’n wilde perd wat ek wou opsaal. Maar ek was lus daarvoor en het die stang vasgebyt. Vir die volgende 18 maande het ek, ver agter die skerms, in my vrye tyd navorsing gedoen. Aand na aand, naweek na naweek, selfs in my vakansies het ek alles waarop ek my hande kon lê, gelees. Onthou, daar was geen rekenaars nie. Geen internet of Google nie.

Ek het boeke en boeke en boeke (ook ensiklopedieë) en dan ook koerante en tydskrifte deurgewerk op soek na moontlike stories uit die geskiedenis, én dan ook datums waaraan dit gekoppel kon word. (By mense uit die geskiedenis is daar uiteraard minstes twee datums, die geboorte- en die sterfdatum.

Ek onthou hoe teleurgesteld ek soms was as ek agterkom iemand is nog nie dood nie, en ek dus net één datum van hom of haar kon gebruik.) Toe ek uiteindelik iets vir elke dag van die jaar gehad het, is ek terug na my baas toe. Ek het my onderwerpe met die hand in ’n dagboek oorgeskryf, met ’n “primêre bron” in hakies daarby, en toe ek dit vir hom wys, het hy gesê orraait, ek kan aangaan. “Maar onthou, DIS VRYSKUTWERK! Moenie dat ek jou in werkstyd hiermee vang nie.”

En so het ek op Maandag 1 Februarie 1982 my eerste poging op Monitor uitgesaai. (My vryskut-vergoeding was R5 per praatjie.) Ek het ’n lekker ronde-getal-datum gekry vir daardie heel eerste Historiese Almanak: Die 100 ste herdenking van pres. Franklin D. Roosevelt se geboorte. Dit was lekker om ook ’n stemgreep van FDR, wat ek met groot moeite uit die SAUK in Johannesburg se argiewe bekom het, te kon byvoeg.

My pogings was natuurlik nie sonder foute nie. Ek onthou die oggend toe ek oor die beroemde bokser, Joe Louis, gepraat het, Joe wat die bynaam “The Brown Bomber” gehad het. Hierdie boerseun se Ingels was nooi te waffers nie, daarom het ek gewoonlik vooraf by Baas Stemmet gaan seker maak van uitsprake. Daardie dag het ek egter gedink ek is nou ervare genoeg om op my eie alles te doen. En toe spreek ek die Brown Bomber “op sy Afrikaans” uit. The Brown Bom-BER, met die klem op die tweede B. Die telefone het gou begin lui en Stemmet, wat die vure moes doodslaan, was woedend. Algaande leert men …

Vir die volgende nagenoeg twaalf jaar sou ek (met ’n paar kort onderbrekings) hierdie rubriek daagliks saamstel en op Monitor aanbied. Ek sou uiteindelik digby 2 000 praatjies skryf en uitsaai. Dit was vir my ’n groot voorreg toe ’n uitgewer my genader het en ’n keur uit die eerste paar jaar se praatjies in 1985 in boekvorm verskyn het. Ek sal Boekenhout Uitgewers se eienaar, Pieter Hurter, wat later ’n groot vriend sou word, ewig dankbaar bly hiervoor.

Albé klankman by onderhoud met digter

30 Julie 2022

Ek wens dat ek meer kan onthou van daardie oggend sowat veertig jaar gelede toe ek vir Sheila Cussons in Seepunt ontmoet het. Dit moes om en by in 1982 of ’83 gewees het.

Ek was ’n jong, onervare omroepertjie by die SAUK in Kaapstad en my baas, wyle Johan Stemmet, het my uit die bloute een oggend ingeroep en opdrag gegee om “gou” vir ds. Izak de Villiers te gaan help met ’n onderhoud wat hy in ’n hotel met iemand sou gaan voer. Ek moes die bandmasjien, mikrofone, klankpeile, ens. (al die tegniese goed) hanteer.

Daar was nie ’n tegniese persoon (“bedryfsman”) beskikbaar om te help nie, en ek is inderhaas nadergehark. Ds. Izak, wat nie elke dag hiermee gewerk het nie, sou dan op sy onderhoud kon konsentreer sonder bekommernis oor of alles reg opgeneem word vir latere uitsending. (Hoe goed onthou ek nog ons groot, draagbare, spoel-tot-spoel Uher– en Nagra-bandmasjiene van daardie jare.)

Ons is toe na ’n hotel (dalk ’n woonstel?) daar naby die SAUK in Seepunt. (Dit was in een van daardie dwarsstraatjies tussen Hoofweg en Kusweg, dalk London Rd?) En in ’n kamer het Sheila Cussons vir ons gewag.

Die “grootsheid” van daardie besoek — ons was seker goed twee uur lank in daardie kamer waar ds. Izak breedvoerig met Sheila Cussons oor haar lewe en loopbaan gepraat het — het op daardie dag heeltemal by my verbygegaan. (Die rede was waarskynlik omdat ek, vanselfsprekend, gespanne was oor al die tegniese goed waarvoor ek — oorfone op die kop — verantwoordelik was.) Van die inhoud van hulle gesprek, kan ek absoluut niks onthou nie. En daar was natuurlik ook geen kamera waarmee ek die geleentheid kon verewig nie.

Vandag kan ek myself skop dat ek nie ten minste Sheila Cussons se handtekening gevra het nie. (Én ds. Izak s’n.) En ek is bitter spyt dat ek nie dadelik, of kort daarna, alles wat ek van hierdie besoek kon onthou, opgeteken het nie. Vandag is dit net ’n vae herinnering. Jeugdige kortsigtigheid …

Eerste uitgawe van De Burger onthou

26 Julie 2022

Op 26 Julie 1915 het die eerste uitgawe van ’n nuwe koerant in Kaapstad verskyn. “De Burger,” so lui die heel eerste hoofartikel, “is een kind van de smart en van de hoop.” En dan gaan dit voort, in die Hollands van daardie tyd: “Hij is gebore uit de weeën van ons volk. Indien zware rampen niet ons volksbestaan hadden getroffen, hij zou er zeker niet geweest zijn.” 

Die Burger was die geloofsdaad van ’n paar kloekmoedige Afrikaners wat in Desember 1914 op Stellenbosch bymekaar gekom en besluit het “dat het wenselik is een Hollands niewsblad uit te geven”. En net sewe maande later, op daardie veelbesproke Maandagoggend in Julie, word hulle baba gebore.

Die keuse van ’n eerste hoofredakteur was vir die stigterslede uiteraard ’n baie gewigtige besluit. Hy moes ’n gesiene en alom-geëerde persoon wees, ’n man met waardigheid, groot idealisme, onverskrokke moed en innige liefde vir sy volk. So het hulle hom beskryf. En hulle gaan haal hom ver, in die Oos-Kaap. ’n Graaff-Reinetse NG dominee, genaamd Daniël Francois Malan.

Doktor Malan se eerste redaksielid is ’n skamele ses weke voor die verskyning van die koerant aangestel. Die volledige redaksie, van wie die meeste lede slegs enkele dae voor die eerste uitgawe diens aanvaar, bestaan maar uit sestien mense. En van hierdie sestien het slegs twéé enige vorige ondervinding van koerantwerk. Maar waar daar ’n gebrek aan kennis is, vergoed die span se oormaat entoesiasme. 

Toe die Kaapse koerantverkopertjies met hulle skril, vals stemme daardie eerste uitgawe van De Burger luidkeels van die straathoeke af aankondig, die nuwe naam nog krom en skeef op hulle lippe, toe’s die koerant sommer reeds twee bladsye dikker as wat beplan was. Tien volle blaaie. Dít danksy ’n motoradvertensie van ’n hele halfblad wat op die nippertjie bygekom het. In groot letters word daar verkondig dat die enjin van díe motorkar “amper sonder om te skud” tot op 35 myl per uur loop. 

Oor die geloofwaardigheid en invloed van die koerant, kan daar baie stories vertel word. Seker die bekendste, en steeds een van die mooiste staaltjies, is van die oom wat in die biduur opgestaan het (waarskynlik ’n biddag vir reën), en toe in groot opregtheid aangehef het met: “Hemelse Vader, soos U ook seker vanoggend in Die Burger gelees het, dit is baie droog op so baie plekke in ons land …”

Kom ons bring hulde vandag aan die lang ry redaksielede, wat deur die jare hierdie vlagskip van die Moederstad dít gemaak het wat dit reeds meer as ’n eeu is. Talle van hulle is lankal nie meer met ons nie, en vergete. Maar in die annale van die koerantwese in ons land, en van die joernalistiek, ook in die kronieke van die Afrikaanse taal, sal hulle onthou word as die pioniers: Daardie heldegallery van Die Burger se baanbrekers. 

Radio probeer moed inpraat ná ramp

25 Januarie 2023

SWART SONDAG. So is daardie tragiese middag beskryf. “Dag van Buffel en Baviaan.” Die dag toe die moordwater, wat onkeerbaar in die Karoo se gewoonlik kurkdroeë rivierlope afgebulder het, Laingsburg getref het. Sondag, 25 Januarie 1981.

Die nuus oor presies wat gebeur het, het aanvanklik baie stadig ingekom. Ek was destyds ’n omroeper by die ou Afrikaanse Radiodiens in Kaapstad. Thinus de Villiers was die eerste van ons kollegas wat die Maandagoggend in ’n vastevlerkvliegtuig oor die rampgebied gevlieg het. Hulle kon nêrens land nie, maar dit wat hy, bleek in die gesig terug op kantoor vertel het, was ’n verhaal van verskrikking.

Later die middag het kollegas André Blom en Frikkie Heymans stomgeslaan teruggekeer nadat hulle haastig die gebied in ’n weermaghelikopter kon besoek. Toe eers het die volle omvang van die vloedramp ons begin tref. Frikkie kon ’n onderhoud voer met mev. Brenda Ameels, wat twintig kilometer stroomaf tot in die Floriskraaldam meegesleur is, waar sy én haar man wonderbaarlik gered is. Haar beskrywing van hulle skrikwekkende ervaring het die volgende oggend die land aangegryp toe dit uitgesaai is.

Op die Dinsdagoggend was Die Burger se reusebanieropskrif: VLOEDRAMP EIS 150. In die voorbladstorie is berig dat “die hart van Laingsburg” deur die watermassa uitgeruk is. In ons plaaslike radioprogramme uit die Kaap, het ons omroepers die mense in die rampgebiede — dit was toe duidelik dat dit nie nét Laingsburg was nie — probeer opbeur. Moed inpraat, so oor die radio. Troos bied. Inligting verskaf. Van die dorpe het geen ander kontak met die buitewêreld gehad nie, net die radio.

Die ramp het ook vir ons ’n persoonlik kleur gehad. Een van ons Kaapse kollegas by Radio Goeie Hoop, omroeper Eddie Goldberg, was met sy gesin vasgekeer op Laingsburg. Hy het sy skoonpa, burgemeester Willem Destroo, in die vloed verloor. Oom Willem, wat die Sondagmiddag nog ’n klompie bejaardes by die ouetehuis gaan red het.

Een van die vele heldeverhale wat hulle daardie middag in die Karoo afgespeel het. Die plaaslike NG predikant, ds. Malan Jacobs, het ook omgekom nadat hy die herderlose bejaardes, wat vasgekeer was, te hulp gesnel het. Bo op die dak van die ouetehuis, het hy die klompie wat hy tot daar gehelp gekry het, ondersteun. Hy het vir almal gebid voordat die groot gebou stadig in die kolkende bruin water begin draai en toe gekantel het. Sy liggaam is nooit gevind nie.

In sy laaste preek daardie oggend, met baie van die mense wat ’n paar uur later hulle lewens sou verloor teenwoordig in die kerk, het ds. Jacobs onder andere oor die dood gepraat. Hierdie preek, volledig uitgeskryf in sy aantekeningboek, het vol slikmerke wonderbaarlik in sy oorstroomde studeerkamer behoue gebly.

“Daar is mense,” het ds. Jacobs gesê, “wat meen die Dood staan voor hulle soos ’n monster, gereed om hulle neer te vel, om geliefdes weg te neem. Die mens vereenselwig hom so moeilik met sy sterflikheid,” het hy voortgegaan. “Maar as ons die heerlike waarheid van die Woord van God snap, dan verdwyn die angel uit die dood.”

Vurige Skot lei Bloemfonteinse koerant

Op 3 Mei 2023 vertel Albé:

Vandag se historiese hoofkarakter is ’n man wat ’n reusebydrae tot die ontwikkeling van die joernalistiek in Suid-Afrika gelewer het: ’n Vurige Skot genaamd Thomas William Mackenzie.

T.W. Mackenzie wou van kleintyd af ’n koerantman word. Hy het as jong seun al by ’n koerant begin werk, waar hy alles gedoen het wat van hom gevra is. Van teemaak en boodskappe aandra, tot later setwerk, toe verslaggewing, en later selfs finansiering en die bestuur van ’n koerant. Dit was nog in die dae toe hy vir sy pa by die Scottish Highlander gewerk het.

T.W. Mackenzie het in 1898 in Suid-Afrika aangekom, waar hy begin werk het by die Eastern Province Herald in die Baai. Maar dit was by The Friend in Bloemfontein, waar hy net na die Anglo-Boeroorlog in 1903 aangesluit het, dat hy sy onuitwisbare stempel op die Suid-Afrikaanse joernalistiek sou afdruk. (’n Mens is geneig om te vergeet dat Bloemfontein nog tot in die 1930’s ’n oorwegend Engelssprekende stad was.)

Dertig jaar lank sou díe uitgesproke Skot hierdie Engelse koerant in die hartjie van die Vrystaat beheer, en ’n standaard daarstel wat moeilik nagedoen kon word. Almal het nie altyd van sy standpunte gehou nie. Om die waarheid te sê, in Bloemfontein het min mense met Oubaas Mackenzie saamgestem. Maar daar kan geen twyfel wees nie dat hy én sy koerant respek afgedwing het.

By The Friend is die waarheid as heilig beskou, en geen politieke voortrekkery, van wie ook al, is geduld nie. Sy helder, ewewigtige menings is selfs oorsee aangehaal. Mackenzie, of dan “TWM” soos hy bekend was, het nie geskroom om kaalvuis in te klim onder enige politikus met wie se doen en late hy nie saamgestem het nie. Hy het bv. skerp van genl. Hertzog verskil, iets wat die generaal natuurlik glad nie aangestaan het nie. Maar tog was dit genl. Hertzog wat treffend aan Mackenzie hulde sou bring na sy dood.

Onder TWM se mentorshand by The Friend, is verskeie jong joernaliste, wat later groot hoogtes sou bereik, geslyp en gevorm. Verskeie van Mackenzie se “manne” sou later self redakteurs van aansien word. Dit was Mackenzie wat ’n Nat/Sap-koalisie in 1932 voorgestaan het. Mense het vir hom gelag. Maar binne drie maande het dit ’n werklikheid geword. Oubaas Mackenzie se groot mistasting op sy oudag by The Friend was sy lofredes vir die Britse premier Neville Chamberlain, nadat Chamberlain so deur Adolf Hitler ’n rat voor oë gedraai is in München. Die “peace in our time” (wat die premier nagestreef het) het Mackenzie laat glo Chamberlain het die wêreld van ’n katastrofe gered.

Hy sou nie lank genoeg lewe om te besef hoe verkeerd hy was nie. Thomas Mackenzie sterf op 3 Mei 1939, enkele maande voor Hitler se verraad en die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog — die oorlog wat Chamberlain én Mackenzie geglo het afgeweer was.

Nog ‘n redakteur van The Friend

OP 18 Mei 2022:

18 Mei 1962 was die sterfdag van een van die mees kleurryke, mees omstrede, uitgesproke, onverskrokke, skerpsinnige en waaghalsige politici in ons geskiedenis. Arthur Barlow was dít álles en nog veel meer. Al wat hy nooit was nie, was vervelig.

Arthur Godfrey Barlow is in Bloemfontein gebore, waar sy pa die eienaar-redakteur van The Friend was. Barlow sou ’n tydjie lank in sy pa se voetspore volg en joernalis en selfs ook redakteur van The Friend wees.

Maar dis veral as politikus dat hy onthou sal word. Ek het onlangs weer deur sy skreeusnaakse en onderhoudende bundel herinneringe, Almost in confidence, geblaai. Die staaltjies uit sy lang loopbaan betrek ’n magdom persoonlikhede met wie hy as joernalis en politikus te doen gehad het …

Al hierdie karakters kry nuwe dimensie in Arthur Barlow se beskrywings. Luister net hoe skets hy die legendariese diamantmagnaat, finansier en politikus Abe Bailey: “Assertive, artful, active Abe. He was as slim as a Boer ‘dorp’ attorney. 

Sir Abe was blykbaar nie die wêreld se grootste spreker nie, en by geleentheid, waar hulle saam ’n klomp omgekrapte mynwerkers toegespreek het, moes Arthur Barlow die kastaiings uit die vuur probeer krap. Net sodra Barlow wil-wil op dreef kom met SY toespraak op die verhoog, dan val een van die mynwerkers in die voorste gestoeltes, ’n mannetjie met ’n hoē, skril stem, hom in die rede met ’n tussenwerpsel. Totdat Barlow vies uitroep: “I wish you’d STOP… You with the gramophone voice!” Waarop die Engelse mynwerker blitsvinnig terugkap: “AND with a better record than yours!”

Barlow haal genl. Smuts aan, in daardie stadium prokureur-generaal van die Transvaal. Smuts beskryf die jong Winston Churchill, na sy berugte “ontsnapping” uit Pretoria, in ’n dagvaarding vir sy inhegtenisneming soos volg: “ENGLISHMAN, 25 YEARS OLD, INDIFFERENT BUILD, WALKS WITH A BEND FORWARD, PALE APPEARANCE … HARDLY PERCEPTABLE, TALKS THROUGH HIS NOSE AND CANNOT PRONOUNCE THE LETTER ’S’ PROPERLY.” (Min sou die twee groot staatsmanne in daardie stadium besef hoe hulle paadjies vorentoe weer sou kruis en dat hulle sulke hegte vriende sou word.)

Net terloops: Genl. Piet Joubert het destyds, na Churchill se ontsnapping, blykbaar bevel gegee dat daar nie te veel mannekrag gemors moes word om die Engelsman weer te probeer vang nie. “Hy’s net ’n klein koerantskrywertjie en nie die moeite werd nie”, was sy woorde.)

Hoe gaan AI die joernalistiek verander?

Op 12 Januarie 2023 vertel Albe:

Orals, veral sedert die begin van Desember 2022, word daar geskryf en gepraat oor AI (“artificial intelligence”), en die implikasies wat veral iets soos die veelbesproke Chat-GPT op ons lewens kan/gaan hê. (“GPT-3: Generative Pretrained Transformer 3 is a state-of-the-art language processing AI model developed by OpenAI.”)

Vir my, as joernalis, is die groot vraag: Hoe gaan AI die wêreld van joernalistiek verander? Die Londense Times skryf op 3 Desember 2022: “Is Chat GPT the world’s first truly useful chatbot? OpenAI released its lifelike language system Chat GPT in San Francisco last week.”

In ’n webartikel op Frontdreams se webblad, publiseer ene Ibrahim Isaac op 19 December ’n artikel getiteld “5 Best Uses of Chat GPT for Writing”. Hierin skryf hy onder meer onder die sub-opskrif Writing Stories: “If you write stories, this is the best tool for you. You can write about anything and it will be fun to do. It’s easy to use and it has lots of features that make it easier to create a story. You don’t have to have any special skills or experience in writing – all you need is a computer with internet access and a little bit of time on your hands! (My kursivering.) The Chat GPT software will help guide you through each step …”

Skrywer Rudie van Rensburg som dit baie goed op in ’n Facebookplasing op 16 Desember: “Dit wat kenners al baie lank voorspel, het nou ‘n werklikheid geword: kunsmatige intelligensie gaan die wêreld soos ons dit ken vir altyd verander. Met die baanbreker Chat-GPT, ‘n revolusionêre KI-program, wat nou tot almal se beskikking op die internet is, kondig die robot sy koms skouspelagtig aan. Selfs Die Burger het in vandag se uitgawe dié blikbrein geraadpleeg oor oplossings vir die kragkrisis.”

Skoolkinders gaan vorentoe binne etlike sekondes enige uitdagende werkopdrag onder die knie kry. Sommer ‘n eenvoudige voorbeeld: Vra jy bv. vir Chat-GPT om ‘n opsomming van die Battle of Britain in 250 woorde en in Afrikaans te gee, doen hy dit binne sekondes. Buiten vir “pilote”, wat verkieslik “vlieëniers” moet wees, is sy Afrikaans redelik foutloos.

Voer ‘n sakeman ‘n ingewikkelde e-pos van ‘n gegriefde kliënt in, en jy vra die bot om vir jou ‘n “polite” antwoord te skryf, doen hy dit so vinnig en goed dat jy verstom staan. Met sy ongekende vlakke van kennis, interpretasie en begrip van taal, kan dié blikbrein antwoorde verskaf oor letterlik enige onderwerp. Dit hou nogal wonderlike, maar terselfdertyd skrikwekkende, gevolge vir die mensdom in.

Ek het (na ’n redelike lang wagperiode a.g.v. “oorlading” (die boodskap op die blad was “ChatGPT is at capacity now”) uiteindelik ingekom op die webblad om die spulletjie te toets. Ek het die volgende opdrag (net so) ingetik: “Skryf ‘n doodsberig van 300 woorde in Afrikaans oor Adriaan Vlok”.

Ek was stomgeslaan toe die “Bot” onmiddellik, voor my op die skerm, begin tik en binne seker net 15 sekondes die volgende berig, presies net soos hieronder weergegee, verbatim, verskaf:

Adriaan Vlok, ‘n bekende Suid-Afrikaanse politikus, is op 83-jarige ouderdom oorlede. Hy was bekend vir sy harde houding teenoor anti-apartheid aktiviste en sy betrokkenheid by verskeie menseregte-oortredings tydens die apartheidsera. Vlok het tydens sy politieke loopbaan as Minister van Wet en Orde onder President P.W. Botha gedien. Hy het bekendheid verwerf vir sy aktiewe rol in die onderdrukking van anti-apartheid bewegings en sy betrokkenheid by skynbaar-terroristiese aktiwiteite teen die regering se politieke teenstanders. In 1996 het Vlok erken dat hy beveel het dat die anti-apartheid aktivis Frank Chikane vermoor moet word en hy is daarvoor skuldig bevind van poging tot moord. Hy is ook skuldig bevind van samewerking om ander anti-apartheid leiers te vermoor en hy is ‘n geskorste vonnis opgelê. In later jare het Vlok openlik versoek om verskoning vir sy dade tydens die apartheidsera en het hy versoening gesoek met diegene wat hy seergedaan het. Hy was ‘n kontroversiële figuur in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika en sy dood laat ‘n groot leemte in die politieke landskap van die land.

Natuurlik is dit nie perfek nie. Daar is ’n paar taalfoute en spelfoute. En dis net 173 woorde, terwyl ek vir 300 gevra het. Maar dit bly bleddie verstommend. Wat gaan die implikasies vir die joernalistiek wees?

Natuurlik kan ’n Bot (nog) nie iets soos ’n nuuskonferenise of ’n hofsaak gaan dek en binne enkele minute daaroor verslag doen nie. Of ’n onderhoud met André de Ruyter gaan voer nie. Maar op hoeveel ander plekke in die tipiese nuusomgewing van ’n koerant of tydskrif, kan/gaan hierdie soort “kunsmatige hulpmiddels” die joernalistiek soos ons dit ken, dramaties en sonder omkeer verander?

Met kostedruk en dalende inkomste orals in die tradisionele media, is die dag wanneer baie van ons joernaliste nie meer nodig gaan wees nie, dalk nader as wat as wat ’n mens dink. (Ek persoonlik, wat met iets soos my rubriek Historiese Almanak storietjies uit die verlede opteken, se dae is waarskynlik getel …)

Van joernalis tot staatspresident

Op 22 Mei 2022 vertel Albé:

Op 10 Mei 1961 is Charles Robberts Swart as eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika verkies. Vir hierdie geliefde Vrystater was dit die hoogtepunt van ’n lang en kleurryke loopbaan in die politiek.

C.R. Swart was maar dertien toe hy in 1908 op Winburg matriek geskryf het. Op vyftien, nadat hy ’n jaar lank as magistraatsklerk gewerk het, word hy student aan die destydse Grey Universiteitskollege in Bloemfontein. In 1919 begin sy politieke loopbaan toe hy organiserende sekretaris van die NP in die Vrystaat word, en in 1968 tree hy, na sewe jaar in die hoogste amp, uit as Staatspresident.

Hy word ook onthou as joernalis, as rolprentakteur in Amerika (waar hy in ’n paar vroeë cowboyflieks gespeel het), en as kanselier van die Vrystaatse Universiteit. Oom Blackie, soos wat hy orals bekend was, het ’n vol lewe gehad.

In die stormagtige Samesmeltingstyd is Blackie Swart een aand tydens ’n vergadering op Clocolan katswink geslaan is. Die Volksblad se opskrif bo die hoofberig die volgende middag, was: SMELTERS SLAAN ADVOKAAT SWART HALF BEWUSTELOOS. Sy vurige vriend, Paul Sauer, het kort hierna uit die Kaap aan hom geskryf: “Ek hoor die lae donders het jou geslaan?”

Dit is in baie kringe nie meer polities korrek of aanvaarbaar om enigsins hulde te bring aan leiersfigure uit die apartheidsjare nie. As minister van justisie was adv. C.R. Swart direk betrokke by wetgewing om die magte van die polisie uit te brei en alle anti-apartheidsaksies te onderdruk. Geboue wat na hom vernoem is, se name is lankal verander. ‘n Standbeeld van hom op die kampus van die Vrystaatse Universiteit is ’n paar jaar gelede, tydens die Fees Must Fall-beweging, deur opstandige studente afgebreek.

Dis so maklik om deur die bril van die hede terug te kyk en te veroordeel. Maar ek onthou Oom Blackie as ’n vriendelike, nederige, bejaarde Boere-oom op sy plaas, De Aap, naby Brandfort. Saam met ’n paar studentemaats het ek in die laat 1970’s die voorreg gehad om by hom en sy vrou, Tannie Nellie, op die plaas te gaan kuier. En wat ’n onuitwisbare indruk het hierdie besoek nie op ons gemaak nie.

Ons het die vorige middag gebel en gevra of ons kon kom inloer. Ek onthou hoedat hy sonder huiwering dadelik gesê het ons is baie welkom en dat hy en Tant Nellie ons graag sou wou ontmoet. Sy het spesiaal vir ons drie onbekende, verbygaande studente beskuit gebak.

Mimi se eerste man voer radio-onderhoude in Europa

Op 25 November 2022:

Dit bly tragies dat die veelsydige musiekman, Dawid Engela, so vroeg gesterf het. Hy was maar pas 36 jaar oud toe hy op 25 November 1967 in ’n motorongeluk omgekom het.

Dawid Sofius Engela het in ’n diep gelowige huis grootgeword. Sy pa, wat ’n onderwyser en later ook dosent was, was ’n kunssinnige mens, wat hom kleintyd al aangemoedig het om klavierlesse te neem.

Die jong Dawid was vroeg al geïnteresseerd in die inheemse musiek van Afrika en hy het uit sy pad gegaan om meer blootstelling hieraan te kry. Dawid Engela het hom aan die einde van die 1940’s aan die Universiteit van die Witwatersrand ingeskryf as musiekstudent. Hier was van sy leermeesters prof. P.R. Kirby en Adolph Hallis. In hierdie tyd begin ook sy jarelange verbintenis met die SAUK as programopsteller en omroeper.

In 1953 trou Dawid Engela met die jong sopraan Mimi Coertse, en hulle besluit om hulle musiekopleiding in Wenen voort te sit. Hier skryf Engela hom by die Musiekakademie van die Instituut vir Musikologie in, en onder leiding van prof. Erich Schenk doen hy navorsing oor die werk van Monteverdi, Schütz en Schein. Hy bekwaam hom terselfdertyd as dirigent onder die gerespekteerde Hans Swarowski, terwyl hy ook klavierbegeleiding, harmonie en kontrapunt, en komposisie bestudeer.

Die hoofdoel van sy studie was om sy doktorsgraad te verwerf, maar ’n gebrek aan geld noodsaak hom om sy studietyd in te kort.Na ’n rukkie terug in Suid-Afrika, in die tyd toe sy huwelik met Mimi Coertse op die rotse beland, sluit Dawid Engela hom in 1956 by die BBC in Londen aan. Hy studeer verder aan die Royal College of Music. Dit was ’n tydperk vol ryk musiekervarings, wat die geleentheid vir hom insluit om radio-onderhoude met verskeie vooraanstaande Europese musici te voer.

Sy eie werk is in die tyd ook deur Suid-Afrikaanse sangers soos Joyce Barker, Dawie Couzyn en Betsy de la Porte uitgevoer. In die vroeë 1960’s word Dawid Engela eers organiseerder van musiek by die SAUK in Kaapstad, en toe ook musiekorganiseerder by Kruik. In hierdie hoedanigheid het hy ’n betekenisvolle bydrae tot die musieklewe in Kaapstad gelewer.

Naas sy talle verwerkings en vertalings, het Dawid Engela nagenoeg vyftig komposisies nagelaat. Van die belangrikste was waarskynlik Sewe Afrikaanse liedere, waarvan die woorde deur N.P. Van Wyk Louw geskryf is, en Liedere van ‘n vergeefse liefde, met woorde deur I.D. du Plessis. Hy het ook gedigte van Roy Campbell getoonset. Die berugte pad van die dood, tussen Laingsburg en Beaufort-Wes, eis vandag 55 jaar gelede die jong Dawid Engela se lewe.

(Op hierdie selfde pad sou ook Leonore Veenemans ses jaar later, en prof. Hennie Joubert in 1986 verongeluk.) In sy kort loopbaan het Dawid Engela ’n omvangryke bydrae tot die ontwikkeling van musiek in Suid-Afrika gelewer. As hy nie so vroeg gesterf het nie, kon sy naam waarskynlik dieselfde plek in ons musiek-annale ingeneem het as díe van ’n Stefaans Grove of selfs ’n Hubert du Plessis.

Geskiedenis te lese in Die Nuusbode

21 Desember 2022:

Die opskrif van vanoggend se Historiese Almanak is: Die goewerneur en die gebelgde Engelsman. En om hierby uit te kom, blaai ons die geskiedenisboeke terug tot by die jaar 1764.Die inligting kom uit wyle dr. Anna Böeseken se wonderlike boek Die Nuusbode, wat al in 1966 verskyn het.

In hierdie bundel dek sy, in die vorm van nuusberigte, die 300 jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis na die aankoms van Jan van Riebeeck in 1652. Die boek is propvol inligting wat op só ’n lekkerlees manier aangebied word, dat ’n mens dit nie kan neersit nie.

By vandag se datum, 21 Desember, in die jaar 1764, verskyn die volgende beriggie in DIE NUUSBODE:

Gisteraand het die Engelse kommandant van een van die Britse skepe wat in die hawe lê, die heer Richard Collins, heftig geprotesteer teen die belediging wat hom aangedoen is deurdat daar geen skildwag voor sy deur, by die huis waar hy tuisgaan, geplaas is nie. Hy het die aandag van sy gasheer, die heer Joachim Johan Lodewyk Wernich, daarop gevestig dat Goerneur Tulbagh wel skildwagte voor die deure van kolonels van Lord Robert Clive laat plaas het. (Net ter agtergrond: Lord Clive was in daardie stadium die opperbevelhebber van ál die Engelse troepe in Indië én van die Britse forte en handelsposte in Bengale. Lord Clive sou later bekend word as die man wat Indië vir Groot Brittanje verower het.)

Maar terug na ons vriend, kommandant Collins. Wat hóm nou so diep gegrief het, was die feit dat die paar kolonels, wat wel skildwagte voor hulle deure gekry het, ná die beëindiging van die stryd in Indië weer gewone burgers sou word, terwyl HY sy rang sou behou en stééds in diens van die Britse Vloot sou wees.

Wat hom nog meer verontrief, sê Collins verder, is die feit dat hy opgelet het dat hy nie met dieselfde respek gesalueer word as Lord Clive nie! En hy vra nie, hy eis, dat sy grief, sy klagte, onmiddellik onder die aandag van Goewerneur Tulbagh gebring moes word. Collins se protes is in die teenwoordigheid van twee kapteins en ’n paar ander offisiere op die stoep van die huis van sy gasheer, Wernich, ingedien. Die heer Wernich het toe maar gelate met ’n raadslid, ene Rönnenkamp, in verbinding getree en die saak aan hom verduidelik, waarna besluit is dat dit te laat in die aand was en dat hulle nie die goewerneur gaan lastig val nie.

Die gebelgde Engelsman moes maar sonder sy wag gaan slaap, hulle sou die volgende oggend die kwessie met die goewerneur opneem. En op die oggend van 21 Desember 1764 gee Goewerneur Tulbagh toe maar toestemming dat Collins ook ’n wag kon kry. Wat is ’n ou skildwaggie nou tussen vrinne. Interessant dat, toe die Britse Vloot ’n paar weke later uit Tafelbaai vertrek, daar nie behoorlik, soos die gebruik was, gegroet is nie. Goewerneur Ryk Tulbagh het dit, sonder om twee keer te dink, toegeskryf aan die “gekweste gemoed” van die heer Richard Collins.