‘DE ZUID-AFRIKAAN’, ‘ONS LAND’ EN ‘DIE SUIDERSTEM’

Ons Land het in 1930 op sy honderdste verjaarsdag sy deure gesluit. Die blad se geskiedenis kan teruggevoer word na die stigting van De Zuid-Afrikaan in 1830. Later, in 1894, smelt die twee blaaie saam en staan tot aan die einde bekend as De Zuid-Afrikaan verenigd met Ons Land. Die blad het die Suid-Afrikaanse Party van genl. Jan Smuts ondersteun en was dus ‘n regstreekse Kaapse konkurrent van Die Burger.

Die laaste uitgawe van Ons Land het in 1932 verskyn. Links onder: die laaste hoofartikel (redaksionele kommentaar) en reg onder: ‘n Afdruk van De Zuid-Afrikaan se eerste hoofartikel.

Die Suiderstem het in 1936 die daaglikse stem van die regeringsgesindes in die Kaap geword met Die Burger die opposisiekoerant. Die eerste redakteur was dr. Christiaan Scheepers met dr. Abraham Jonker sy opvolger. Die skrywers Frans (F.A.) Venter en Freda Linde was redaksielede terwyl die digter Uys Krige vir die letterkundeblaaie verantwoordelik was. Die Suiderstem was ‘n wesenlik ander stem as Die Burger en het vir meer as ‘n dekade diversiteit in Afrikaanse koerantgeledere bevorder.

Die Suiderstem sluit in 1950 nadat die Verenigde Party die verkiesing in 1948 teen die Nasionale Party verloor het en hul finansies opgedroog het. In ‘n sin het die sluiting van Die Suiderstem die deur vir Die Landstem oopgemaak. Dié nie-Nasionale weekblad het ‘n nuwe tipe joernalistiek op die toneel gebring.

Geplaas op 8 Mei 2023