DE WET POTGIETER — JOERNALIS EN SKRYWER WAT AANHOU KRAP

De Wet Potgieter het naam gemaak as ondersoekende joernalis en skrywer. Hy vertel ook hier aan Johannes Froneman van sy wydlopende loopbaan by verskeie koerante — en hoe die Facebookblad Nagkantoor tot stand gekom het.

Jou loopbaan het, as ek reg verstaan, as misdaadverslaggewer in Pretoria begin. By die Pretoria News?

Nee, ek het in 1974 by Oggendblad begin en was eers landdroshofverslaggewer en daarna hooggeregshofverslaggewer waar ek in daardie ontstuimige tye na die Soweto-opstande, sogenaamde terreurverhore soos die SASO-saak, albei Breyten Breytenbach se verhore, Tony Holiday (joernalis) se verhoor en verskeie ander gedek het. Van die verhore was in die Paleis van Justisie en sommiges in die Ou Sinagoge in Paul Krugerstraat. Ek het hierna vir tyd lank misdaad gedoen.

Ek is toe na Beeld se Pretoria-kantoor as munisipale verslaggewer en het later ook misdaad gedek. In 1979 het ek vir ‘n oorplasing na Die Burger gevra waar ek algemene nuus gedoen het, toe in die nagkantoor gewerk waarna ek na die TygerBurger toe is.

Toe terug Oggendblad toe waar ek vir ‘n kort rukkie assistent-nuusredakteur was en toe Vaderland toe as misdaadverslaggewer en het later nuusredakteur geword toe Chris Louw Perskor se Londense Buro gaan beman het.

Vandaar is jy na Rapport en toe Sunday Times? Hoe het jou loopbaan ontwikkel?

Ek is in 1988 as Pretoria-burohoof van die Sunday Times aangestel en het daar my werk as ondersoekende joernalis begin. Was ook die publikasie se militêre korrespondent. Aan die begin van 1994 het ek ‘n aanbod aanvaar om by Rapport se redaksie aan te sluit. Ek is omstreeks 2003 weg by Rapport en het sedertdien aan en af vryskut gewerk vir Daily Maverick, Star, Saturday Star en buitelandse publikasies en televisiedienste.

Jy het (dus) toenemend ondersoekende joernalistiek gedoen? Kan jy verduidelik hoe dit van gewone misdaadverslaggewing verskil?

Ek glo ‘n goeie ondersoekende joernalis is ‘n kombinasie van ‘n goeie speurder en ondernemende spioen. Al verskil is ons vang nie die skuldiges nie, maar ontmasker hulle. Die res is die geregsdienaars se verantwoordelikheid (wat deesdae al minder gebeur). Ons samel ook eers inligting in, soos spioene, op ‘n stil en klandestiene manier om nie slapende honde wakker te maak nie. Al verskil is dat ons nie, soos met spioene die geval is, alle inligting en intelligensieverslae uiters geheim hou en in ‘n bodemlose put stort nie. Ons gebruik daardie navorsing en inligting vir ons ondersoek om die teikens uiteindelik aan die kaak te stel.

Dis belangrik om vooraf stil en diskreet te werk te gaan om die ondersoek behoorlik te doen voordat daar ‘n goed nagevorsde papierspoor van amptelike navrae uitgestuur word vir kommentaar.

Ons weet mos almal hoe daardie meesters van toesmeer hulle beste spin op amptelike navrae sit en dit is dus belangrik dat daar altyd iets in die mou gehou word vir so ‘n skaakspel met boereverneukers. 

Wat is die grootste uitdagings verbonde aan ondersoekende joernalistiek?

Die grootste uitdaging is dat jou teiken jou nie moet kan troef en jou storie sink nie. Daarom is behoorlike navorsing en die gebruik van betroubare bronne baie belangrik.

Jy beland ook rondom 2005 by Die Wêreld, ‘n nuwe Sondagkoerant. As nuusredakteur? Hoe het dit gebeur?

In daardie stadium was ek hoof van die skakelafdeling van ‘n mediahuis in Pretoria en ek het met die pas aangestelde hoofredakteur, Maryna Blomerus, kontak gemaak om hulle bemarking vir hulle te doen. Dit het toe net so gebeur dat sy my toe die pos van nuusredakteur aanbied.

Die koerant het egter nie geslaag nie. Waarom nie?

Daar was verskeie redes en die meeste het ek eers uitgevind toe ek pens in pootjies in die redaksie was. Die mense wat die fondse vir die projek gebied het, het my verseker dat daar genoeg geld was sodat sirkulasie gebou kan word, maar dit het toe na drie maande nie so geblyk nie.

Dan was daar ook gans en al te veel mense in die redaksie aangestel wat salarisse moes kry, die hoofredakeur het geen benul van ‘n koerant uitgee gehad nie en daar was bykans geen stelsel in plek om die koerant landwyd te versprei nie. 

Intussen het jy begin boeke skryf. Vertel asb meer daaroor.

Ek het tot dusver ses boeke gepubliseer en die sewende, wat ‘n opdatering  van my eerste een is, word later vanjaar (2024) deur Naledi uitgegee. Die boeke se titels is:

Contraband- South Africa and the International Trade in Ivory and Rhino Horn (Quellerie Uitgewers)

Totale Aanslag/Total Onslaught (PenguinRandomhouse)

Kwart voor ‘n bloedbad (Lapa Uitgewers)

Grusaam/Gruesome (PenguinRandomhouse)

Black Widow White Widow (PenguinRandomhouse)

Kruisvuur (Self uitgegee)

Jy het die baie geslaagde Facebook-blad Nagkantoorbegin. Vertel asb. meer.

Nagkantoor het eintlik in ‘n monster ontaard wat ek nooit voorsien het nie. Ek het dit in die Covid-tyd begin en dit was aanvanklik beplan as die bemarker van my kuierkroeg hier op die berg. Dit het egter ‘n heel ander wending geneem toe ons kollegas op strepe begin stories en foto’s plaas op die blad. Die mense is uitgehonger vir gehaltewerk en die ou garde het eenvoudig daarvoor gesorg.

Dit is egter ‘n verskriklike stryd om beheer te hou van dit wat gepubliseer word. As jy net kan sien watse drek ek daagliks moet weier en soggens die kwetsende kommentare wat deur die nag geplaas word, en wat ek soggens moet skoonmaak. 

Ek moet darem toegee dat die voortdurende skoonmaakproses van die trolle en moedswilliges vrugte afwerp en daar deesdae min probleemlede is. Daarvoor is ek vir die bykans 30 000 Nagkantoorders dankbaar.

Alita (Steenkamp) se leeueaandeel  in die handhawing van goeie publikasies is met haar afsterwe daarmee heen, maar ek het nou vir Joan van Zyl as admin wat help om die sweep te klap.

Vandag is jy eienaar van ‘n kuierplek op Kaapsehoop in Mpumalanga… Maar jy is steeds joernalis en/of private ondersoeker. Wat behels dit?

Daar gaan nie ‘n naweek verby dat daar nie een of ander bekende persoon of van my kontakte en bronne of nuwe vriende by Nagkantoor instap en kom kuier  nie. Niemand hoef te bel en ‘n afspraak te maak nie. Almal weet ek is altyd daar. Inligting, nuwe stories, nuwe vriende stroom naweke in.

Ek doen ook steeds navorsing vir buitelandse televisiespanne wat ondersoekende werk in Afrika kom doen en fasiliteer ook vir baie van hulle onderhoude met my kontakte en bronne.

Lees ook onderhoud met Maryna Blomerus elders in Verbatim.