CHARL THOM — ‘N LANG SKOF IN DIE JOERNALISTIEK

Hierdie terugblik op sy loopbaan is in 2021 op versoek geskryf, maar word nou eers, enkele maande ná sy dood, gepubliseer.

Deur Charl Thom 

My joernalistieke loopbaan kan basies in vier fases verdeel word, naamlik SAUK-nuusdiens; Die Nataller/Tempo; Die Vaderland; Mining News/Die Mynblad/Mining Sun/The Reef.

Ek kan goed onthou hoe ek as trotse jong gegradueerde einde 1966 vir poste begin aansoek doen het. My eerste keuse sou Die Transvaler se sportredaksie wees aangesien ek, as ‘n sportfanatikus, geglo het dit moet eenvoudig wonderlik wees om betaal te word om sport te kyk!

Die SAUK het egter iets soos R10 per maand meer betaal en ek kry toe ‘n onderhoud by die destydse nuushoof, Jan van Zyl, in Radiohuis in Commissionerstraat, Johannesburg. Ek kon nie wag om hom my graadsertifikaat te wys nie, maar hy het skaars daarna gekyk en my basies een vraag gevra:”Kan jy tik?” Ek was uit die veld geslaan, want om een of ander rede was ek onder die indruk dat joernaliste verhewe is bo tik en dus hulle stories aan tiksters dikteer.

Charl Thom het sy aftrede aan die Weskus geniet en ‘n gewilde rubriek vir Die Weslander geskryf.

“Vat daai draagbare tikmasjien huis toe. Kom terug oor twee weke en as jy dan redelik kan tik, kan ons verder praat,” was mnr. Van Zyl se woorde. Nodeloos om te sê, het ek toe min of meer dag en nag geoefen op die draagbare Remington en twee weke later my “tiktoets met twee vingers” geslaag.

Die SAUK het toe net met ‘n nuwe sender, Radio Port Natal, in Durban begin en ek is soontoe gepos. Dit was vir my ‘n groot plesier om by die see te kan wees en toe die nuusredakteur, Nico Nel, my aanstel om sport te dek, was my beker van geluk vol.

Na so drie jaar in die uitsaaiwese is ek na my eerste koerantpos by die destydse Afrikaanse weekblad Die Nataller, as sportredakteur nogal. Dit was interessante dae. Joernaliste mos letterlik alles self doen: die storie gaan haal en skryf, foto’s neem en self ontwikkel in afdruk, blaaie opmaak/koppe skryf en “plak” soos die litografiese proses toe vereis het. Ondervinding wat in later jare vir my goud werd was.

Om ‘n Afrikaanse koerant in Natal uit te gee, was klippe kou en as ek reg onthou het ons weeklikse sirkulasie nooit ver verby 4 000 gekom nie. Maar dit was ‘n puik leerskool onder redakteur Barend Venter en gesoute manne soos Louis du Buisson en Leroux Terblanche. Die geldjies was maar steeds skraps en ek het begin “string” (vryskut) vir die destydse Landstem. George Gerber was toe Landstemse sportredakteur en party maande was my Landstem-tjek meer as my salaris by Die Nataller.

Dis alles skelm gedoen onder ‘n skuilnaam, want dit was teen die koerant se beleid. Maar ons eersteling was op pad en iewers moes ek plan maak. Later het ek ook naweke vir die Sunday Times en Sunday Express sportgebeure gedek en kon so darem kos op die tafel en in die kleintjie se bottel sit.

Die Nataller is oorgeneem deur die Voortrekkerpers en nie te lank daarna nie is Barend Venter onder ‘n wolk weg nadat hy die Broederbond in ‘n hoofartikel gekritiseer het. Dit was destyds ongehoord vir wat ‘n sogenaamde mondstuk van die Nasionale Party was.

So bevind ek my toe op die ouderdom van 24 in die redakteurstoel as “waarnemende redakteur” nadat ek intussen tot nuusredakteur bevorder is. Van die senior manne soos Du Buisson en Terblanche het intussen nuwe weivelde gaan opsoek en ek was toe die “senior” in die redaksie.

Later is ek permanent aangestel deur baas Marius Jooste self. Sy enigste vereiste aan my was dat ek hom sou belowe dat ek my nie “deur die Engelse van Natal sou laat ronddonner nie”.

Nog later besluit Perskor om die verliesmakende Nataller te sluit en ‘n heel nuwe koerant onder die naam Tempo op die been te bring met die oog daarop om dit later uit te brei as ‘n streekkoerant wat die Kaapse Ooskus sou insluit.

Die ervare Sammy Lakeis uit die Kaap ontbied as die eerste redakteur en ek is as assistent-redakteur aangestel. Die groot planne vir Tempo het nooit juis gerealiseer nie en Sam is Hoofstad toe bevorder as redakteur. Sam was sekerlik die persoon wat my die meeste van koerantwerk geleer het. Ek het by hom oorgeneem by Tempo.

Ná vyf jaar by Die Nataller/Tempo is ek in 1976 Vaderland toe as asssistent-tot-die redakteur onder Dirk Richard. Dit was midde-in die Soweto-onluste en ‘n rowwe begin vir my en my jong gesin in die grote Johannesburg. Drie jaar by Die Vaderland het gevolg waar Dirk my geskool het in die politieke joernalistiek en ek veral gehou het van die geleentheid om gereeld hoofartikels te kon skryf.

Finansies het egter ‘n probleem gebly en toe ek ‘n aanbod kry as redakteur van die Kamer van Mynwese se publikasie Mining News/Die Mynblad en voordele waarvan ek voorheen net kon droom, was die versoeking net te groot.

Ek onthou die dag goed toe ek my bedanking by Dirk Richard ingedien het. Hy moes Jooste in kennis gestel het, want dié het my laat roep. Dit was net ‘n maand of twee nadat Harald Pakendorf as “mede-redakteur” saam met Dirk aangestel is, duidelik met die oog daarop dat hy sou oorneem. Maar dit   was uiteraard ‘n baie ongemaklike situasie vir Richard en, glo ek, ook vir Pakendorf. Jooste het egter nie juis ‘n geheim daarvan gemaak dat hy Richard wou dwing om af te tree nie.

Toe Jooste my laat roep wou hy by my weet of ek wou loop oor Pakendorf. Ek het dit ontken, want hoewel ek lojaal was aan Richard, het ek niks teen Pakendorf gehad nie en heel goed met hom oor die weg gekom. Maar Jooste ontbied toe vir Pakendorf en vra hom: “Hoekom jaag jy dié man weg?”, verwysende na my. Ek en Pakendorf was albei ewe uit die veld geslaan.

Nietemin is ek toe na die Kamer van Mynwese toe en hoewel die bedrysfjoernalistiek nie so opwindend was soos die sogenaamde “hoofstroom” nie, het ek dit tog baie bevredigend gevind. Die koerant is gemik op die werknemers in die mynbedryf regoor Suid-Afrika en met ‘n sirkulasie van meer as 100 000 was dit taamlik invloedryk en is as gesaghebbend aanvaar. Dit is ‘n koerant soos enige ander wat berig oor alles en almal, maar met die mense van die mynbedryf as sy lesers.

Later het ek ook in beheer gekom van Mining Sun (destyds gemik op die swart mynwerkers) asook The Reef, ‘n tydskrif met mynveiligheid as sy veld.

Charl het einde van 1998 vroeg afgetree en hom op St. Helenabaai aan die Weskus gevestig waar hy lank ‘n tweeweeklikse humoristiese rubriek vir die Weslander geskryf het.

Charl is in Maart 2023 in die ouderdom van 79 oorlede.