Die Stellenbosse akademikus het twee belangrike boeke geskryf: die een lê die politiek binne ‘n redaksie — veral die kunsteredaksie — bloot; die ander ondersoek hoe ras reeds vir meer as 200 jaar in die media neerslag vind.
BROTHER IN ARMCHAIRS — Post-apartheid cultural struggles at Die Burger
Gabriël J. Bothma
SUN PRESS, Stellenbosch
2014
Die boek is gegrond op Gawie Botma se doktorale tesis. Dit delf diep in die binnepolitiek van die Die Burger se kunsteredaksie en vra vrae oor hoe besluit is op watter tipe nuusdekking. As sodanig is dit dalk die mees kritiese kyk waaraan ‘n Afrikaanse redaksie nog onderwerp is.
Dit beteken nie dat Botma nie met ‘n baie bepaalde bril sy ondersoek gedoen het nie; hy maak self ook nie aanspraak op die een of ander “objektiwiteit” nie.
Dat hy bepaalde vooroordele blootlê, is egter so. Maar dit beteken nie dat Die Burger se vooroordeel sonder rede was nie. Watter koerant is vry van vooroordele? En is van Die Burger se konserwatiewe voorbehoude nie intussen as juis bewys nie?
Die interaksie tussen ‘n meer progressiewe kunsteredaksie en konserwatiewer hoofredaksie bly nietemin ‘n boeiende storie. —JDF
RACE TALK in the South African media
Gawie Botma
SUN PReSS, Stellenbosch
2019
Ras — onder meer in die vorm van rasbenamings of berigte oor rasse-insidente — is sedert die koms van Jan van Riebeeck deel van die Suid-Afrikaanse media. Dis nou as jy die skrywer se argument aanvaar dat Van Riebeeck ons eerste “blogger” was toe hy getrou in sy dagjoernaal aantekeninge gemaak het.
Botma werp die lig op verskeie gedrukte en digitale media, insluitende die swart pers van vroeër. Onlangse voorbeelde van rassisme kom ook aan die orde.
Lesers sal waarskynlik elk anders reageer op Botma se poging om die ras-kwessie op gebalanseerde wyse aan te bied.
Tog, hierdie is ‘n nuttige oorsig oor die tema — as jy die moed het om dit alles weer te beleef. — JDF