BRUIN AFRIKAANSE JOERNALISTE KOM MET ‘N LANG KRONKELPAD

Deur Johannes Froneman

Om oor bruin Afrikaanssprekende joernaliste te skryf, is ‘n terrein met allerlei slaggate. Net die gebruik van die woord bruin of nodigheid om spesifiek oor hierdie joernaliste te skryf, kan bevraagteken word. Dit is egter belangrik dat die bydrae van bruin joernaliste ook hier op Mediamense.com ‘n staanplek kry sáám met ander Afrikaanse joernaliste. Uiteindelik is dit één geskiedenis, maar dit het langs verskillende kronkelpaaie ontplooi.

Die bydrae van bruin joernaliste tot die Afrikaanse joernalistiek (uitgesluit die uitsaaiwese) kan tentatief in sewe fases opgedeel word, met as voorbehoud dat fases inmekaar loop en die een dus nie noodwendig die ander uitsluit nie.

Die baanbreker Conrad Sidego ... eerste bruin joernalis in voltydse diens van ‘n Afrikaanse publikasie. Hy het later redakteur van Rapport Ekstra geword en daarna verder uitgestyg.

Verskillende fases

Weens die apartheidsideologie, wat sedert 1652 deel was van die maatskaplike en politieke realiteit van Suid-Afrika, het bruin mense op vele wyses uitgesluit — spesifiek ook sedert die massamedia in 1800 ‘n wankelrige ontstaan aan die Kaap gehad het.

In 1895 het ‘n eerste koerant vir bruin mense verskyn. In die loop van die 20ste eeu het nog verskeie publikasie vir bruin mense verskyn, maar hulle was oorweldigend in Engels — met een uitsondering. Hierdie kan as ‘n eerste fase beskryf word — jare van uitsluiting, wat die Afrikaanse mediawêreld aanbetref. Dit was dus verlore jare.

Vir Afrikaans was die publikasie van Die BeeldEkstra egter ‘n draaipunt, omdat dit deur ‘n groot mediamaatskappy uitgegee is.

Daarna is enkele bruin joernaliste aangestel om berigte te verskaf vir “ekstra”-uitgawes (dus aparte, aangepaste uitgawes van byvoorbeeld Die Burger of ‘n heel aparte bylae tot Rapport). 

‘n Vierde draaipunt was toe bruin redakteurs vir die bylae aangestel is, want dit het aan hulle wesenlike seggenskap oor inhoud gegee.

‘n Vyfde noemenswaardige moment was toe bruin joernaliste as redakteurs van struggle-koerante, of sogenaamd alternatiewe blaaie, na vore getree het.

‘n Verdere draaipunt was toe bruin verslaggewers in die hoofkoerante se redaksies opgeneem is.

In ‘n betekenisvolle sesde draaipunt kry Die Burger en Volksblad bruin redakteurs.

Daarna volg die huidige tydvak (wat ook al meer as tien jaar oud is) waarin bruin joernaliste met selfs groter selfstandigheid na vore tree as redakteurs van die dagblad Son (wat  suksesvol ‘n oorwegend bruin werkersklasmark in die Wes- en Suid-Kaap bedien) en Kuier, ‘n suksesvolle tydskrif wat op die bruin mark fokus. Aan elk van hierdie draaipunte of fases word nou meer aandag gegee. 

Die herinneringe en ervaringe van belangrike rolspelers soos Conrad Sedigo, Henry Jeffreys, Zelda Jongbloed en ander bruin joernaliste gee vorm aan hierdie belangrike momente. Daarop word in hierdie kort geskiedenis gesteun.   

Jare van uitsluiting

Gegewe die sterk Afrikaner-nasionalistiese inslag van die meeste Afrikaanse publikasies, veral koerante, die gepaardgaande heersende standpunt van die meeste Afrikaners rakende “integrasie” en allerlei wette, was bruin lesers en bruin joernaliste buite wit Afrikaanssprekendes se gesigsveld. Kortom, rassisme het bruin joernaliste uitgesluit.

Bruin mense het ook nie die ekonomiese vermoë gehad om Afrikaanse publikasies tot stand te bring nie — dis te sê as hulle lus had om in die “witmanstaal” te skryf (soos Langenhoven en ander dit genoem het). Tog, dit was ook bruin mense se moedertaal.

Sover terug as 1895 is ‘n koerant genaamd Citizen vir bruin lesers op die been gebring. Nog pogings, soos South African Spectator, South African Clarion, APO, Sun en Cape Standard volg in die eerste dekades van die 20ste eeu. Hulle was oorwegend Engelstalig, maar die SA Spectator het by geleentheid berigte en artikel in die “destydse Hollands-Afrikaans” geplaas (soos Mohamed Shaikh dit stel).

Uit beskikbare inligting blyk dit dat die Die Banier die eerste Afrikaanse publikasie gemik op die bruin bevolking was. Dit het in 1961 onder redakteurskap van Aat Kaptein, ‘n Nederlander van geboorte, verskyn. Hy het eers by Die Burger gewerk, maar sterk gevoel oor die posisie van bruin mense en het die tweeweeklikse blad as instrument van opheffing beskou.

Die blad was egter positief jeens die regeringsbeleid en het geen inslag by die teikenmark gevind nie. Wel het die Dept. van Kleurlingsake tot Kaptein se hulp gekom en eksemplare aangekoop wat by bruin skole afgelewer is (soortgelyk aan die Gupta-projek van jare later toe The New Age deur staatsinstansies geborg is). So het die blad tot 1968 voortbestaan.

Kaptein het intussen ook ‘n Engelstalige blad vir die bruin mark gestig — The Cape Herald. Dit was suksesvol genoeg vir gevestigde koerante  om daarvan kennis te neem en het moontlik bygedra tot ekstra-uitgawes soos dié van Die Beeld en Die Burger.

Dit sou spoedig realiseer, maar dit is duidelik dat Afrikaans vir die eerste 65 jaar van die 20ste eeu nie die taal was waarin bruin mense joernalistiek bedryf het nie en ook nie (met ‘n enkele uitsondering, Die Banier) die fokus van enige Afrikaanse publikasies was wat spesifiek op bruin mense toegespits was nie. 

Bruin joernaliste het wel by verskeie Engelstalige publikasies gewerk, maar daar is geen aanduiding dat Afrikaanse joernalistiek deur bruin mense bedryf is nie — ook nie dat Afrikaanse hoofstroomkoerante dit oorweeg het om bruin joernaliste voor 1971 aan te stel nie.

Die “Ekstra”-koerante

Die Sondagkoerant Die Beeld, wat in 1965 deur Nasionale Pers gestig is, was eintlik die voorloper deurdat ‘n ekstra-uitgawe deur Dirk de Villiers en Jurie Naudé as sirkulasiebouer bedink is. Dit het in 1967 verskyn, ‘n jaar voor Die Burger Ekstra, waar Jan Prins die redaksionele leier was.

Danksy Die Beeld-Ekstra se sukses, is besluit om met Die Burger-Ekstra te begin. Die Ekstra-uitgawe is aanvanklik met twee wit joernaliste begin, Albert Crafford (redakteur) en Jacques van Wyk (wat later redakteur geword het). Van Wyk onthou die destydse redakteur van Die Burger, Piet Cillié, se woorde: “Die begin van Ekstra is ‘n geloofsdaad net so belangrik soos die begin van Die Burger self. Ek weet nie of ons gaan slaag nie. Maar as ons misluk, is Die Burger gedoem om ‘n arm stamkoerant te word.”

‘n Keerpunt was die aanstelling in 1971 van Conrad Sidego as eerste voltydse joernalis by Nasionale Pers (vandag Naspers, met Media24 as filaal). Sidego was vir twee jaar verslaggewer by Die Burger Ekstra, wat bruin lesers moes werf in ‘n tyd toe baie, ter wille van die politiek, liewers die Cape Times gelees het.  

Teen 2000 het die Ekstra 30% van die koerant se verkope verteenwoordig. Van Wyk vertel: “Die Burger het sy blanke eksklusiwiteit ontgroei en is aansienlik verryk deur die breër bakens wat hy gestel het en die omvattender nuusdekking wat hy bied.”

Maar dit het aanvanklik broekskeur gegaan. Skeptisisme en agterdog het by die teikenmark geheers. Dit was egter die basis waarop Metro-Burger in 1980 as gratis gemeenskapsblad gelanseer kon word. Melvin Whitebooi was die eerste redakteur en is later deur mense soos Freddie Hendriks en Avril Fillies opgevolg.

Die blad is lank teen ‘n verlies uitgegee, want adverteerders was sku. Mettertyd het dit beter gegaan en het die blad ná sewe jaar wins begin toon. Die weeklikse oplaag het teen die einde van die 1980’s op 90 000 gestaan.

Die fokus was aanvanklik op positiewe gemeenskapsnuus, maar Rapport Ekstra het meer om die lyf gehad.

Sidego na Rapport Ekstra

Ná twee jaar by Die Burger Ekstra het Rapport  Conrad Sidego gewerf, waar hy vir die volgende 14 jaar gewerk het — eers onder Gawie Theron en later as redakteur van hierdie suksesvolle toevoeging. Hoewel die resep hier ook aanvanklik “mooi meisies en sport” was, het dit verander. Volgens Mohamed Shaikh het die koersverandering “die aanvanklike heilsame beriggeweing op sy kop gekeer”. 

Sidego skryf: “Rapport Ekstra was die spieël waarin hierdie stormjare vir ons gemeenskap gereflekteer is. Wat vir Naspers die ontginning van ‘n nuwe lesersmark was, het terselfdertyd ‘n verhoog , ‘n uitlaatklep, geword vir ‘n stemlose groep mense wat die stryd in hulle eie taal kon voer.”

Die onderwysman en oudambassa deur Franklin Sonn bevestig hierdie waarneming: “In die UDF-dampkring destyds het ons nie gehou van wat ons gesien het as ‘n apartheidskoerant soos Rapport Ekstra nie. Maar onder sy redakteurskap is ons ‘n stem gegee. Mense het gewéét van my onderwysvakbond wat militant anti-apartheid was.”

Jongbloed voeg by: “Dit het gehelp dat bruin leiers op verskillende vlakke deel geword het van die openbare diskoers in ‘n koerant wat ‘n spieëlbeeld wou wees van die goed en sleg in bruin gemeenskappe.”

Sidego noem dat hy begrip van sy hoofredakteur Willem de Klerk gekry het oor die fyntrap wat die politiek van die 1980’s geverg het. Rapport Ekstra het die pyn en frustrasie van bruin lesers verwoord, maar (wit) Naspers-direkteure was soms onthuts. Hulle het weer druk op De Klerk geplaas.

Tot hul krediet het Rapport se hoofredakteurs Sidego laat begaan. Intussen het Sidego vir sy klein redaksie gesê: “Kom ons gebruik Rapport Ekstra om Suid-Afrika te verander.” Dit is presies wat hulle gedoen het. In die proses het hulle hul nooit deur enigeen laat boelie nie, skryf Jongbloed.

Johann Maarman, ‘n protegé van Sidego by Rapport Ekstra en later self redakteur, onthou dat terwyl Rapport die driekamerparlement onder P.W. Botha ondersteun het, het Rapport Ekstra anders gevoel en publisiteit aan UDF-aktiviste soos Trevor Manuel en Allan Boesak gegee het. 

Later, in die 1990’s, wou Chris Moolman as redakteur van Rapport ‘n redaksionele hoofartikel vir Rapport Ekstra skryf om bruin mense aan te moedig om te gaan stem. Zelda Jongbloed het egter vasgeskop; sy was nie lus vir iets wat ruik na die Nasionale Party nie. Haar opdrag aan haar adjudant Maarman was om dit volstrek nie toe te laat nie. Moolman was glo briesend, maar Jongbloed se opdrag is uitgevoer.

Uiteindelik was Rapport ‘n sake-onderneming en was die bydrae van Rapport Ekstra tot Rapport se destydse sukses “betekenisvol”, meen Sidego. Sirkulasiegewys het die “ekstra” soveel as 125 000 per week tot Rapport se sirkulasie bygedra. Daarvoor is die redaksie in Izak de Villiers se tyd as hoofredakteur met ‘n vakansie in Mauritius beloon, hoewel die meeste die kontant verkies het, onthou Maarman.

Die sukses van Rapport Ekstra het selfs vroeër daartoe gelei dat die Sidego ‘n pos by die Sunday Times aangebied is.

Sidego gee sy mentor, Gawie Theron, die eer vir die vestiging van ‘n bepaalde styl wat “Oom Gawie” op hulle afgedruk het. Dit het onder meer behels dat hulle van lesers as “vriende” gepraat het; van die koerant as “ons koerant”; dat die teks ‘n eie (informeler) aanslag gehad het.

Hoe Rapport Ekstra se styl en woordgebruik van die hoofkoerant verskil het, moet nog nagevors moet word, maar die onderliggende afkeer van die heersende politieke bestel en alles wat dit meegebring het (soos vernederende insidente by hotelle wat nie die bruin joernaliste wou of mag gehuisves het nie, en aparte geriewe vir bruin redaksielede), het sterk deurgeskemer.

Noodwendig het dit in die keuse van stories deurgeskemer. Daarom is dit nie vreemd nie dat Nelson Mandela na sy vrylating dank teenoor Jongbloed betuig het vir Rapport Ekstra se rol in die struggle.

Maarman skryf dat Rapport Ekstra — ook in die gedaante van Rapport Metro (sedert 1994) en Kaap-Rapport (sedert 1996) —  die joernalistiek en Media24 “met onderskeiding gedien (het) … Hulle het hul doel gedien en met gellings sweet onbetwisbaar help gestalte gee aan ‘n oop en nuwe Suid-Afrika”. Of soos Sidego dit gestel het: “… [H]oop is gebring en rolmodelle geskep”. Dit is ook gedoen deur gemeenskapsprojekte en kompetisies.

Teen die eeuwisseling was die aparte uitgawes uitgedien en is die Kaapse kantoor onder een kantoorhoof geplaas, Zelda Jongbloed. Sy noem dat joernaliste soos Ainsley Moos, Heindrich Wyngaard, Anastasia de Vries en Jacob Rooi nou sterker na vore begin tree het — ook buite die enger bruin kring.

Bruin joernaliste in ‘gewoneredaksies

Jacques van Wyk het rondom 2000 vertel: “Gekleurdes bring vandag hul kant in verskeie afdelings van Die Burger. Die koerant het op die oomblik twaalf gekleurde redaksielede, van wie agt by Ekstra/Metro-Burger ingedeel is en vier by ander afdelings.”

So het bruin redaksielede deel van die gewone redaksiespanne geword. Die “ekstra”-uitgawes het oorbodig geword in ‘n nuwe politieke bedeling waar apartheid in al sy gedaantes afgeskaf is. By Beeld het dit gebeur nadat die redakteur, Willem Wepener, eensydig die Beeld Ekstra gesluit het en Henry Jeffreys en kollegas na die gewone redaksie oorgeplaas het. Jeffreys vertel in ‘n onderhoud dat hy toe op buiteparlementêre politiek gefokus het — soms tot irritasie van die nuusredakteur. Later word hy ‘n adjunkredakteur by Beeld.

Bruin lesers van Die Burger het in die 1990’s drasties toegeneem, maar later weer teruggesak toe Son ‘n koerant vir hoofsaaklik die bruin gemeenskap van die Wes- en Suid-Kaap geword het. 

Bruin redakteurs van dagblaaie

‘n Volgende, simbolies belangrike stap, was die aanstelling in 2006 van Henry Jeffreys as redakteur van Die Burger. Daaroor vertel hy in ‘n hoofstuk in die boek Ons kom van vêr. Opvallend lui die biografiese inlei tot sy stuk dat hy die eerste swart redakteur was. Self sê dat hy homself as “swart” beskou weens sy agtergrond in swart bewussyn. Maar hy het geen probleem met benamings soos “bruin” en selfs “kleurling/Kleurling” nie. Nie almal deel hierdie ekumeniese hantering van die begrippe nie. Op spoor hiervan (én die ander joernaliste wat hier aangehaal word), verwys ek hier na Jeffreys as die eerste bruin of gekleurde redakteur van Die Burger.

Jeffreys het eers vir ‘n paar maande as redakteur waargeneem. Hy sê hy het “nie enigiets nuuts probeer doen nie, maar gehou by die bestaande resep”. Tog het dinge, volgens sy waarneming verander: Daar was ‘n groter fokus op mense met kleur sonder dat hy enige opdragte hieroor gegee het.

Daarna volg sy permanente aanstelling. Dit is nie in alle kringe goed ontvang nie. Jeffreys was vroeër (toe hy nog by Beeld was) uitgesproke dat hy in 1999 vir die ANC sou stem en het dit duidelik gemaak dat Die Burger nie sonder meer ‘n kampvegter vir Afrikaans sou wees nie.

Jeffreys meen ‘n kritiese hoofberig oor prof. Hermann Giliomee se rol in die stryd om Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch het gelei tot sy weggaan by Die Burger. Sy kontrak het verstryk en is nie hernu nie. Wel is hy die pos van redakteur-te-velde (editor-at-large) aangebied, wat hy na deeglike oorweging van die hand gewys het. Dieselfde Koos Bekker wat hom die pos van redakteur persoonlik aangebied het, het glad nie met hom oor die latere aanbod gesels nie, aldus Jeffreys. 

Oor sy redakteurskap sê hy dat hy geleer het daar is net soveel wat mens (as redakteur) kan doen. Maar hy beskryf dit tog as ‘n “wonderlike” tyd. Ná sy vertrek by Die Burger was hy drie maande tuis toe die aanbod kom om redakteur van The New Age te word.Hy het egter gou snuf in die neus gekry en geloop. Dié projek van die Gupta-broers is later deur die Zondo-kommissie direk aan staatskaping verbind. 

Ainsley Moos was die volgende bruin aanstelling in ‘n redakteurspos by ‘n dagblad. Sy pad het eers na die redakteurskap van Landbouweekblad gelei, waarna hy Volksbladse redakteur geword het. (Daarna het Moos hom suksesvol in die korporatiewe wêreld begewe.)

Afrikaans en bruin Afrikaanses

Bruin joernaliste het deur die jare nie dieselfde uitgesproke positiewe houding jeens Afrikaans gehad as sommige van hul wit kollegas nie. Dit het nie samewerking bevorder nie, maar speel dalk ‘n al hoe kleiner rol.

Jongbloed vertel dat sy self deel was van ‘n “geslag mense wat moedertaal-Afrikaans om politieke redes aanvanklik verwerp het”. Later het sy egter haar joernalistiek in Afrikaans bedryf — as redakteur van Rapport Ekstraen adjunk-redakteur van Die Burger.

Jeffreys se komplekse standpunt oor Afrikaans hou verband met sy gedagte dat daar “byna geen sinvolle gesprek tussen die twee oorheersende komponente van die Afrikaanse taalgemeenskap — die bruines en die wittes — bestaan nie”. Oor Afrikaans is hy egter positief, soos blyk uit sy ondersteuning van Afrikaanse kunstefeeste.

Daar is egter veel meer hieroor te sê. Vrae kan byvoorbeeld gevra word oor Jeffreys se houding jeens Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch. Michael le Cordier wys daarop dat bruin mense nie dieselfde verwagtinge van Afrikaans koester as wetenskap- en universiteitstaal nie. Dit lyk of Jeffreys hom as redakteur van Die Burger in hierdie kraal bevind het. Soos ander het hy dalk die taal bloot as gebruikstaal beskou en die taal in terme van bemagtiging beskou. Maar dit is juis hieroor dat sommige bruin Afrikaansprekendes in die jongste tyd op Afrikaans as volledige universiteitstaal op Stellenbosch aandring. Hierdie debat gaan nie gou weggaan nie.

Die behoefte aan Son en Kuier

Ondanks die opname van bruin joernaliste in die hoofstroom van Afrikaanse joernalistiek, het eiesoortige behoeftes voortbestaan en gesorg vir die sukses van veral twee publikasies: Son en Kuier.

Son het aanvanklik onder ‘n wit redakteur (Ingo Capraro) as ‘n tipiese sensasiekoerant begin. Dit het Son Noord ingesluit, wat, soos die blad Sondag, nie die paal gehaal het nie. Die Kaapse uitgawe (wat in die Wes-, Oos- en Suid-Kaap) versprei is, was egter onder bruin redakteurs ‘n groot sukses. Die fokus op nuus uit veral die bruin gemeenskap het aanklank gevind en die sirkulasiesyfer verby dié van Die Burger gedruk — tot so hoog as 120 000. (Die gevolge van die Covid-pandemie het egter, soos met ander dagblaaie, dié syfer drasties verlaag.)

Die resep bevat die volgende elemente: ‘n sterk fokus op plaaslike (gemeenskaps-) kwessies, soos misdaad, maar ook seks, humor en sport. Dit word in ‘n taal aangebied wat die leser maklik verstaan, insluitende uitdrukkings wat Kaaps is. Daar is ‘n duidelike emosionele band tussen die koerant en sy lesers. Alé Smith verduidelik in haar studie oor die Son se lesers hierdie band as volg:

“The paper employs typical self-reflexive, moralising and interactive tabloid approaches to show its readers that it understands their world and takes their issues and concerns seriously. The paper does this in the form of relentlessly exposing injustices, community ills and corrupt politicians, policeman and other people in power. In this way, the newspaper creates and builds a relationship of trust with its readers.”

Son se sukses was ‘n belangrike basis waarop Kuier kon voortbou. Son het immers bewys daar is ‘n bruin Afrikaanse mark wat gehunker het na iets van hul eie, meen Kay Karriem, redakteur van Kuier. Dit het egter nie maklik gegaan om Kuier in 2009 aan die gang te kry nie: Die ekonomie was pap ná die 2008-ineenstorting van wêreldmarkte. Die feit dat Francois Groepe toe as eerste bruin uitvoerende hoof van Media24 gedien het, het bes moontlik gehelp.

Karriem het weens swak gesondheid nie self die geboorte van die tydskrif beleef nie, maar het ná ‘n paar maande by Evadne Cupido oorgeneem toe dié self met haar gesondheid gesukkel het.

Karriem het baie goeie ervaring gehad wat sy dadelik as redakteur kon inploeg. Sy was naamlik joernalis by Beeld, subredakteur by Huisgenoot, waar sy ook ervaring van produksie en bemarking opgedoen het.

Die inhoud van Kuier het suksesvol ‘n ruimte geword waar veral bruin vroue hulself in kon herken en tuis voel. Die voorbladgesigte is byna uitsluitlik bruin en plaaslik. Die Afrikaans is informeel en neig na die spreektaal, dus vol Engelse woorde. Handhawing van taal is nie die blad se doelwit nie. “Ons veg nie vir ‘n taal nie, maar vir ‘n boodskap,” het Karriem opgemerk. Dit herinner aan Jeffreys se benadering by Die Burger.

In Kuier se tiende verjaarsdaguitgawe vertel Annastasia de Vries, self oudjoernalis en nou akademikus, dat Kuier die beeld van vroue ingrypend verander het. “Ineens kry jy ‘n vrou wat nie lyk of sy kwaaivrinne met haar kos is nie … Nee, sy kom in all shapes and sizes, soos in die regte lewe…”

Die uitgawe was in alle opsigte ‘n viering van om onbeskaamd jouself te wees, aanvaar te wees vir wie en wat jy is … Van bruin wees. Die inhoud van Kuier weerspieël weekliks hierdie menslike dimensie, nie heeltemal anders as Huisgenoot nie, maar met ‘n ander demografiese fokus.       

Bruin mense in die uitsaaiwese

Die Afrikaanse diens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) saai sedert 1937 op ‘n aparte kanaal uit. Die naam het deur die jare van die Afrikaanse Diens na Radio Suid-Afrika na Afrikaans Stereo, radiosondergrense en gewoon RSG verander. Dit was tot 1990 wesenlik ‘n wit stasie vir Afrikaners.

Met die politieke omwentelinge van die 1990’s het die stasie se karakter en gehoor drasties verander om alle Afrikaanssprekendes, by name ook bruin Afrikaanssprekendes, in te sluit. Dit is toenemend in die programinhoud gereflekteer, asook in die aanstelling van bruin omroepers en van Mohamed Shaikh as stasiehoof in 1996.

Hierdie tendens is tydens Magdaleen Kruger se lang diensbeurt van 15 jaar as stasiebestuurder voortgesit en uitgebou. Omroepers soos Terrance April, Jacqui January, Sue Pyler-Slabbert, Haidee Muller-Isaacs, Charlene Lackay en Fritz Klaaste het huishoudelike name geword. In 2021 het Craig-Leigh Smith programbestuurder geword.

By nuus en aktualiteit (wat bestuursmatig nie onder RSG val nie) het joernaliste soos Lynette Francis-Puren en Heindrich Wyngaard na vore getree as belangrike aanbieders. Monitor, Spitstyd en Kommentaar het ‘n bruin uitvoerende regisseur gekry (Nicolene Louw-de Wee).

By ander radiostasies — veral gemeenskapsradiostasies — het bruin omroepers deel van die uitsaailandskap geword.

Op televisie is bruin Afrikaanse nuuslesers en verslaggewers ‘n alledaagse gesig, maar dit was nie altyd so nie. Die uitbreiding van Afrikaans op kykNET-kanale het ook daartoe bygedra.

Waar die uitsaaiwese tot rondom 1990 die eksklusiewe domein van die SAUK was (wat apartheidsbeleid noukeurig uitgevoer het), is bruin mense grootliks uitgesluit, hoewel seker verwag is dat hulle na die Afrikaanse programme op radio sou luister. Sedert bruin mense volledig deel van RSG geword het, het die luistersyfers opgeskiet.

Afrikaanse joernalistiek as broeikas

Jongbloed verwys tereg na Rapport Ekstra as ‘n “broeikas van joernalistieke talent”. Die joernalistiek kan eweneens as ‘n broeikas van allerlei talente beskou word. Sy noem self ‘n hele aantal bruin joernaliste wat via die joernalistiek na ander beroepe aanbeweeg en gepresteer het. Dit geld natuurlik ook vir wit joernaliste.

Die voor die handliggende loopbaanskuif vir drukmediajoernaliste is na ander vorme van joernalistiek, soos hierbo aangetoon. ‘n Ander pad sou wees om in ‘n bestuursposisie binne die media in te skuif of om in die korporatiewe kommunikasiebedryf in te beweeg.

Maar daar is ook ander moontlikhede, soos die akademie en die politiek en diplomatieke diens. Van ons top bruin (en wit) joernaliste het al hierdie pad geloop en sal dit in die toekoms doen.

Besluit

Bruin joernaliste se pad in die Afrikaanse joernalistiek kom inderdaad ‘n lang pad. Die tyd sal leer tot watter mate bruin joernaliste in alle opsigte ten volle geïntegreer sal word by Afrikaanse joernalistiek (soos dit wel reeds bewysbaar plaasgevind het), of daar in die toekoms steeds ‘n behoefte sal wees aan identifiseerbaar “bruin” publikasies (soos Son en Kuier), en of die posisie van Afrikaans as hoër funksies (soos die akademie) ‘n bron van meningsverskil sal bly.

Intussen kan getuig word van die enorme vordering wat die afgelope sewe dekades plaasgevind het — tot versterking van Afrikaanse joernalistiek en bevestiging van alle Afrikaanssprekendes se menswaardigheid en eienaarskap van ‘n inheemse taal.     

Erkenning: Die illustrasie heel bo kom uit Rapport Weekliks en toon Johann Maarman op sy eerste dag by Rapport Ekstra. Maarman is vandag die eindredakteur by Die Burger.

Geraadpleegde bronne

Carstens, W.A.M. en M. le Cordier (reds.), 2016. Onskom van vêraf. Tygervallei: Naledi.

De Villiers, D.C. 1992. Die Beeld. In: Scholtz, J.J.J., red., Oorgrenseheen, Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Jeffreys, H. 2016. In DF Malan se stoel. In Carstens en Le Cordier (reds.) 2016.

Jeffreys, H. Persoonlike mededeling. Kaapstad, 2019.

Jongbloed, Z. 2015. Naspers en die bruin Afrikaanses: ‘n Huis met baie vensters. In Rabe (red.) 2015.      

Karriem, K. 2019. Persoonlike mededeling, Kaapstad.

Le Cordeur, M. 2016. ‘n Kritiese oorsig van bruin Afrikaanssprekendes se rol in die Afrikaanse media. In Carstens en Le Cordier (reds.) 2016.

Maarman, J. 2020. Stroom-op in baie dun lug, Rapport Weekliks, 29 November 2020.

Manual, G. 1956. Coloured journalism has 60 years tradition in S. Africa. Cape Times, 2 Oktober 1956.

Rabe, L. (red.). 2015. ‘n Konstanterevolusie: Naspers, Media24 enoorgange. Kaapstad: Tafelberg.

Price, I. 2019. Kuier keer media op sy kop. Kuier, 4 September 2019.

Shaikh, Mohamed. 1995. Onderhoud gevoer deur Rian Cloete  in die program Profiel. Uitgesaai op Afrikaans Stereo, 30 Oktober 1995. Opname beskibaar in SAUK-klankargief, Johannesburg.

Shaikh, Mohamed. 1996. Onderhoud gevoer deur Hennie Maas. Uitsaaidatum en program onbekend. Opname beskibaar in SAUK-klankargief, Johannesburg.

Sheikh, M. 1987. ‘n Ondersoek na die verskynsel van aparte koerante en/of Ekstras vir die “bruin bevolking” in Suid-Afrika. M in Joernalistiek-tesis, Universiteit van Stellenbosch.

Sidego, C. 2015. Stroom-af en stroom-op: Die Ekstra-koerante se rol. In Rabe (red.) 2015.

Smith, A. 2012. Acknowledging the audience: The readers behind the success of the Afrikaans-language tabloid Kaapse Son. Ongepubliseerde PhD-tesis. Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.

Smith, A., Fourie, L.M. en Froneman, J.D. 2012. Setting the tabloid agenda: What two Afrikaans-language tabloids offer their readers. Communicatio 38(2):225-243.

Terblanche, André. 1992. Onderhoud gevoer deur Frikkie Wallis. Uitgesaai op Radio Suid-Afrika, 27 September 1992. Opname beskibaar in SAUK-klankargief, Johannesburg.

Willemse, H. 2013. ‘Om weer mens te word’: identiteit, onreg, skuld en restitusie in die RSG-vertelreeks Almal het ’n storie, TydskrifvirLetterkunde, 50 (3)

Geplaas op 22 Jan. 2022