Amanda Botha is ‘n legende in kuns-, teater- en letterkundige kringe. Maar ten diepste is sy ‘n mediamens, ‘n koerantmens, ‘n joernalis. Oor dekades het honderde berigte uit haar tikmasjien gevloei. Haar joernalistieke arbeid is in omvang en diepte haas onmoontlik om te oortref.
In ‘n gesprek met Murray la Vita van Die Burger stel sy dit heel beskeie: “Ek het myself nog altyd net beskou as ’n soort van ’n skriba van my tyd. Om die goed aan te teken wat op my pad gekom het. Ek is maar net so ’n middelmens.”
Tog, nie sommer enige middelmens nie. Op tagtig-iets is sy nog aktief. Nie sleg vir iemand wat al in die 1960’s as sportskrywer die glasplafon gebreek het nie. En sedertdien geen einde het nie.
Amanda se loopbaan in die joernalistiek het by Die Burger begin, op uitnodiging van die destydse redakteur, Piet Cillié. Sy som haar loopbaan as volg op: “Ek het die joernalistiek betree op ’n uitnodiging; ek het in die teater gekom op ’n uitnodiging; ek het in opera gekom op ’n uitnodiging; ek het ballet betree op ’n uitnodiging; ek het in televisie gewerk op ’n uitnodiging; ek het in die kunste betrokke geraak op ’n uitnodiging… ”
Sy was nie net lank Kaapse verteenwoordiger van Die Transvaler nie, maar ook publisiteitsbeampte by die destyds Kruik (die Kaapse Raad van Uitvoerende Kunste) en onafhanklike teaters. Mens sou kon sê ‘n nuushond én bevorderaar van die kunste.
Haar navorsing loop uit op verskeie boeke en sy is besig met nog. Sy was betrokke by talle kunstefeeste, verskeie dokumentêre vir kykNET, as kurator van uitstallings en versorger van die literêre nalatingskap van drie skrywers. Die lys hou aan…
Amanda se domein: berigte oor kunstenaars en hul werk.
“Ek het ’n geweldige gevoel dat dit belangrik is om ’n rekord te hê van die tyd waarin ons leef; veral ’n kollektiewe geskiedenis van die Afrikaner,” sê sy aan La Vita.
Sy kwalifiseer: “Ek bedoel dit nie in ’n nasionale sin nie, ek bedoel dit geheel en al in ’n kultuursin en in ’n veel wyer sin as die FAK of… ek bedoel van die bydraes wat die Afrikaner gelewer het, want ons kry nie genoeg erkenning daarvoor nie.
“En ek het toenemend die gevoel as mense soos ek wat daarvan kennis dra en daarvan deel was, dit nie aanteken nie… ek dink nie iemand ná ons sal veel moeite doen om dit te doen nie.”
Om haar te kry om oor haarself iets te skryf, is geen maklike taak nie. Gelukkig het sy enkele kere vir Perskormense se webblad, K’rant, iets geskryf. Soos haar huldeblyk aan Hermie Hendricks, eertydse nuusredakteur en redakteur van Die Transvaler.
Sy skryf: “Dit was laat 1973 wat ons ontmoet het. Ek is deur Carl Nöffke, die destydse hoofredakteur, aangestel in die pas gestigte Kaapse kantoor van Die Transvaler. Ná my aanstelling is ek na die Perskor-hoofkantoor in Aucklandpark genooi en die eerste mens wat ek ontmoet het, was mnr. Hendricks.
“Ons eerste gesprek het gehandel oor allerlei geskiedkundige onderwerpe waar hy gepraat het van wonderlike stories wat nie vertel word nie en aangesien ek nou in Kaapstad is, moet ek tog my oë en ore daarvoor oophou. Jy kan soms in die Kaapse Argief gaan snuffel,” sê hy.
“Wat dan nou van die nuusstories?”
“Nee, dit sal jy vanself by jou uitkom,” sê hy.
“Met hierdie opdrag is ek huis toe. Nooit weer is ek gevra om sommer by die Kaapse Argief te gaan rondkrap nie. Op ‘n dag wag ‘n teleksboodskap op my van oom Hermie, soos hy dit onderteken het.
“Hy het gelees dat Krotoa, ‘n belangrike jong slawemeisie aan die Kaap in die huishouding van Jan van Riebeeck was. Sal ek gaan kyk wat ek kry vir so ‘n storie vir die Saterdag-uitgawe. As dit nie hierdie week is nie, dan vir die daaropvolgende week.
“Die volgende week is ek na die argief met my versoek. Binne ‘n uur word stapels lêers voor my geplaas. Oom Hermie se opdrag was vir so 600 – 750 woorde. Tussen alles deur het ek sommer my familiegeskiedenis ook nagegaan en gevind dat Krotoa ook figureer in my familiestamboom.
“Ek skryf my storie. In ons telefoniese gesprek noem ek dat ek van moederskant ook van haar afstam. Onvergeetlike opmerking: ‘Ons Transvalers het altyd geweet dat die Kapenaars ander bloed in hulle are het.’
“Deur oom Hermie het ek Prinses Anne se huwelik met Mark Phillips in Londen bygewoon. Ons geselsies het altyd so ‘n gemoedelike geurtjie gehad dat die Transvalers darem ons Kapenaars ‘n kop voor is. Toe ek hom vertel hoe baie ek die Royalty geniet het, lag hy en sê dit is ‘tipies Kaaps-liberaal’!
“Toe ek keer en antwoord dat ek in Johannesburg gebore is, antwoord hy droogweg: ‘Maar dit tel nie hier nie!’ ”
Wat sonder twyfel getel het, is Amanda se noukeurige notas en goeie geheue. Sy vertel in nog ‘n plasing op K’rant:
“Wat vir my veral groot vreugde verskaf het, was dat my notas en sekere berigte kon help om ‘n deeltjie van die politieke geskiedenis van die 1970’s en 1980’s aan te teken in die eerste twee boeke van die oudpolitikus Japie Basson.”
En in 2000 het adv. Jan Heunis haar gevra om saam met hom te werk aan die optekening van sy politieke herinneringe as regsadviseur van PW Botha en by Kodesa.
“Wat vir hom belangrik was, was om die bydrae van sy pa, oudminister Chris Heunis, op rekord te plaas. Hier was een tergende vraag, wat alle antwoorde ontwyk het: Wat was die moontlike verwagte inhoud van PW se beloofde Rubicon-toespraak wat toe nooit gelewer is nie?
“Destyds het ek in my omwandelings aangeteken dat Chris Heunis onmiddellik ná die lewering van die Rubicon-toespraak ‘n groepie akademici en sakeleiers op Stellenbosch sou toespreek …
“In my notaboekie het ek ‘n paar name gehad van mense wat vir die vergadering genooi is. Een van hulle het onthou dat daar so ‘n uitnodiging was, maar teruggetrek is die oggend vóór die geskeduleerde ontmoeting.
Slegs met hierdie bevestiging plus my notatjie daaroor, is ek na Bloemfontein om by die Instituut vir Eietydse Geskiedenis te soek na ‘n dagboekie van Chris Heunis (sy seun het my vertel dat hy alles baie fyn aangeteken het). Drie dae gaan ek deur hope lêers en allerlei briewe voordat ek die dagboekie vind.
“Ja, dis reg, dit is aangeteken dat hy die groepie sou toespreek om die inhoud en verwagting van PW se Rubicon-toespraak uit te klaar. (Heunis was ‘n vertroueling van PW.)
“Die inhoud en wat daar verwag is om gesê te word, was steeds soek. Nog ‘n paar dae later werk ek deur ‘n stapel lêers wat ongemerk is, juis omdat voorop aangeteken is dat die inhoud nie relevant sou wees nie. Daar vind ek toe Heunis se toespraak wat as gekanselleer aangemerk is en die inhoud daarvan gebaseer was op PW se Rubicon-toespraak wat nooit gelewer is nie.
“Dit is net so oorgeneem in Jan Heunis se boek, Die Binnekring. Terugblikke op die laastedae van blankeregering(Jonathan Ball, 2007). Hermann Giliomee — na ‘n deeglike fynkam — het die notas in ‘n akademiese artikel in ‘n internasionale historiese joernaal gebruik en weer gedeeltelik herhaal in sy boek Die laasteAfrikanerleiers (Tafelberg, 2012).
“Orals is daar nou winste – om spesifiek na my Transvaler-jare te verwys: die 18 maande lange skêrmoordsaak (ek was destyds die heeltyd daarmee gemoeid) word nou met hoofsaaklik Die Transvaler-knipsels deel van die memoire van die verdedigende advokaat, Wilfrid Cooper.
“My foto’s, notas en verslaggewing van die destydse omstrede verbod op André P. Brink se Kennis van die aanden die hofsaak wat daarna gevolg het, het deel van Brink se memoire, Vurk in die pad, (Human & Rousseau, 2011) geword.
Verskeie ander boeke is ook deur haar notas en berigte versterk.
Sy stel dit onomwonde: “Betroubare beriggewing bly ‘n belangrike vorm van eietydse geskiedskrywing. Dit is ‘n verrykende en dankbare ervaring om agterna op dié wyse ‘n bydrae te kan lewer as deel van die nasionale rekord.”
Amanda meen nie sy is besonders nie: “Elke joernalis kan sy/haar eie storie hieroor vertel – dit is nie die unieke ervaring van enkelinge nie. Wanneer ek hieroor verslag doen, is dit om by herhaling my geloof in joernalistiek, as beroep, te bevestig. Ook om opnuut dankbaar te wees om só ‘n getuie en skriba van ons tyd te kan wees.”
Amanda het al haar gepubliseerde werk bewaar en dit aan die dokumentesentrum van die Universiteit Stellenbosch gegee. Dit is dus te lese vir navorsers en joernaliste, studente en wie ook al belang stel.
Amanda vertel verder: “ My betrokkenheid by die Chris Barnard-hartspan vanaf die eerste oorplanting vir ten minste ses jaar bring mee dat heelwat van my materiaal opgeneem kon word in die Hartoorplantingsmuseum van die Groote Schuur-hospitaal. Ook om weer materiaal beskikbaar te stel vir die nuwe Christiaan Barnard-hospitaal wat op oorplantings spesialiseer.
“Die dekking van die Tulbagh engroter Boland se aardbeweging van 1969 het gelei na ‘n permanente uitstalling van berigte en foto’s in die Tulbagh-Museum oor die gebeure.
“Die verwoestende Laingsburg-vloede van 1982 se aantekeninge oor die gebeure en veral onderhoude met oorlewendes en foto’s was van waarde vir die dorpsmuseum, maar veral deel van ‘n helende ervaring van baie inwoners wat dertig jaar ná die herdenking van die tragedie vir die eerste keer weer teruggekom het.”
Ander opspraakwekkende sake waaroor sy berig het, sluit in die Tsafendas-, Biko- en verskeie sogenaamde terroristesake.
Een rede vir die verstommende omvang van haar groot stories is dat sy meestal alleen in die Kaapse kantoor van Die Transvaler was en dus alle groot stories noodwendig moes dek. Waar ander koerante, soos Die Burger, ‘n span verslaggewers kon uitstuur, moes sy alleen regkom.
En het sy nie reggekom nie! Amanda Botha se joernalistieke nalatenskap is fenominaal. — Johannes Froneman
Hierdie artikel is gegrond op Amanda Botha se plasings op K’rant, wat gesien kan word by https://perskor.blogspot.com/search/label/Amanda%20Botha;
Murray la Vita se onderhoud met Amanda, soos gepubliseer in Die Burger en ‘n persoonlike gesprek met haar.
Lees ook AJ Opperman se artikel oor haar by haar tagtigste verjaarsdag: https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/joernalis-amanda-botha-kyk-terug-op-dekades-in-die-kunste-20230725
Hooffoto heel bo is afkomstig van ‘n video wat by die Franschhoek-kunstefees geneem is waar Amanda opgetree het.