Deur Johannes Froneman
Hollandse en/of Afrikaanse nuusblaaie het nog nooit in Natal (nou KwaZulu-Natal) gefloreer nie. Tog is deur die jare verbete pogings aangewend om teen die Engelse stroom staande te bly en aan Afrikaanse joernalistiek ‘n staanplek in die provinsie te gee.
Meer nog, in die woorde van die historikus Piet Prinsloo: dit was ‘n “integrale deel van die Natalse Afrikaner se kultuurstryd”. Hierdie essay probeer daarom om die persstryd oorsigtelik te beskryf en in sy politieke en kulturele konteks te plaas.
In die eerste vyf dekades van die 20e eeu het adv. E.G. Jansen (links op die foto onder) uitgetroon — nie soseer as redakteur nie, maar as verbete beyweraar vir ‘n Afrikaanse Natalse blad wat die ideale van nasionaalgesinde Afrikaners sou uitdra. Ná hom was Theo Gerdener (regs onder) as politieke leier en stigter-redakteur van Die Nataller die uitstaande figuur.
Die verhaal begin egter vroeër as Jansen se byna heroïese optrede of Gerdener se geesdriftige voortsetting van die stryd. Dit eindig ‘n dekade of wat ná Gerdener se pogings, ongelukkig sonder ‘n goeie einde.
Vroeë blaaie
C.F.J. Muller skryf in sy omvattende geskiedenis oor Nasionale Pers (tot 1948) dat die Hollandse De Natalier en Pietermaritzburgsche Trouwe Aanteekenaar sedert 1844 verskyn het.Charles Boniface, ‘n gebore Fransman, was die redakteur nadat hy vroeër in die Kaap kortstondig redakteur van De Zuid-Afrikaan was. De Natalier het spoedig ‘n tweetalige blad geword en verdwyn reeds in 1846 — die pad wat elke ander Hollandse en/of Afrikaanse blad daarna sou loop.
Ander tweetalige blaaie het ook geleidelik verengels, maar De Natal Afrikaner het van 1886 tot 1904 verskyn. Volgens die historikus At van Wyk het die blad doodgeloop weens die stigter en redakteur, J .R. Herschensohnn, se anti-Kruger-beleid rakende die Anglo-Boereoorlog. De Afrikaner het byna dadelik dié blad se plek met J.S.M. Rabie as redakteur ingeneem.
Intussen het De Kondschapper (in Nederlands boodskapper of verkondiger) as eerste naoorlogse Hollandse tydskrif sedert Oktober 1908 in Pietermaritzburg verskyn met ds. G.M. Pellissier en E.G. Jansen as redakteurs. Dit is aanvanklik as ‘n kwartaalblad van die Ned. Geref. Gemeente Pietermaritzburg uitgegee, maar van die vierde uitgawe (September 1909) het die blad wyer gekyk na die “bloei en welvaart van die Ned. Gereformeerde Kerk in Natal”. Vanaf Januarie 1910 het dit as maandblad verskyn met ‘n omslagprys.
Volgens Prinsloo het die blad se leuse sy kerklike aard weerspieël, maar dit het ‘n breër “kulturologiese doel nagestreef”. Die inhoud van die blad het daarom naas kerksake en geestelike lektuur ook historiese artikels ingesluit, verslae van die plaaslike debat- en letterkundevereniging en skryfwedstryde om “leeslus en skryfkuns … aan te wakker”.
Na die blad se sluiting in 1912 het De Bode in 1914 met dieselfde redakteurs en basiese inhoud voortgegaan. Die blad het advertensies en heelwat lesers getrek, maar die ontwrigting van die Eerste Wêreldoorlog het die blad in 1915 gekelder.
In hierdie blaaie met hul beperkte leserskring en bedoeling was uiteraard geen politieke inhoud nie en die behoefte het aan ‘n algemene nuusblad bestaan — ook een wat die politieke strewes van die Afrikaners openlik sou verwoord. Hierin sou Die (De) Afrikaner ‘n belangrike rol speel.
Die (De) Afrikaner en E.G. Jansen
Die Afrikanerpolitiek was nie eenvoudig nie, met die versoenende Suid-Afrikaanse Party van genl. Louis Botha aan die een kant en genl. J.B.M. Hertzog se Nasionale Party as verteenwoordiger van nasionaalgesinde Afrikaners aan die ander kant. Dit het die vestiging van ‘n Afrikaanse blad bemoeilik en verduidelik seker ook die “vreemde bokspringe” wat Muller aan Die Afrikaner se redakteur, dr. J. Vrolik, toedig.
Hy is in 1916 deur John Ferreira vervang en op 25 September 1917 kondig die blad aan dat hy nou die Nasionale Party ondersteun. Die blad is dan ook as amptelike mondstuk van die Nasionale Party in Natal aanvaar. Dit het na ‘n wedersyds lonende stap gelyk, maar andersdenkende Afrikaners in ‘n mate uitgesluit.
Die blad se aandele is aan ‘n paar Nasionaliste verkoop, maar genoeg algemene steun het uitgebly. Daarom pleit Jansen by Nasionale Pers se sekretaris, Fed Dormehl, vir ‘n algehele oorname. Daarna volg ‘n besoek van Jansen aan die direksie van Nasionale Pers en ‘n ondersoek ter plaatse deur ‘n gesant van Die Volksblad. Op 9 September 1918 koop Nasionale Pers De Afrikaner as besigheid (dus die koerant en drukkery) en was daar hoop dat die onderneming vooruit sou kon boer.
Dit was egter moeilike tye. Die Eerste Wêreldoorlog was nog nie afgehandel nie en die Groot Griep het sake steeds ontwrig. Die uitgee van Die Burger in Kaapstad was self nog ‘n geloofsaak, De Huisgenoot was maar twee jaar op die been en die maatskappy nie regtig in ‘n posisie om uit te brei nie. Tog het die direksie (met een teenstem) die sprong gewaag. Dit sou nie Nasionale Pers se suksesvolste inisiatief wees nie.
Jansen se aanstelling as redakteur (soortgelyk aan dr. D.F. Malan se aanstelling by De Burger vier jaar vantevore), het groot verwagtinge gewek. Sy voorganger, John Ferreira skryf:
“Als redakteur handigen wij met de grootste verwachtingen en het volste vertrouwen de pen van ‘De Afrikaner’ aan Advokaat Jansen over, wetende, dat de Nationale Pers de diensten van ‘n man — hoewel geen joernalist — tog van bekwame (vooral politieke) beleid rijker georden is.”
Jansen het hom in diens van alle Afrikaners gestel en eenheid te midde van die moeilike omstandighede bepleit. Hieroor merk Piet Prinsloo op:
“Adv. Jansen het met dié doel voor oë sy volksgenote tydens feesdae en volksfeeste, politieke vetes en verkiesings, tye vol nuuswaardighede en stil tye op hul Christen- en volkskap, volkseenheid en ideale, bedag gemaak. So het hy Kersfees as die grondslag van die Afrikaner se geloof bestempel en dit aan 16 Desember se gelofte verbind, wat op die geloof gegrondves is … Die gees van Nuwejaar het hy aan die stryd om voortbestaan verbind. Volgens hom het die opwindende gewaarwording van ‘n nasionale gees wat gegroei het, die selfbewussyn van die Afrikaner wat toegeneem het en hul gevoel van eie waarde wat versterk is, die Afrikanervolk se onafhanklikheidsideaal helder na vore laat tree.”
Jansen het ‘n hoë premie op volkseenheid gestel en het sy blad gebruik om dit te bevorder. Prinsloo skryf:
“As gematigde het hy die bitterheid, verwydering en vyandskap tussen volksgenote met dieselfde taal, geskiedenis, tradisie en ideale betreur. Die verbreking van Afrikanereenheid moes volgens hom geheel word.”
Beter verhoudings met Engelssprekendes was nog nie ter sake nie — altans nie vir die Nasionaliste wat as minderheid met ‘n sterk pro-Britse meerderheid te kampe gehad het, mense wat gevrees het dat Afrikaners die oorlogspoging sou saboteer terwyl hul seuns en mans besig was om aan die oorlogsfront in Europa te sterf. Die historikus P.S. Thompson skryf:
“In December 1915 the new parliament debated the pardoning of the Afrikaner rebels, and agreed that as soon as the country’s security allowed, pardons should be made in special cases. On the 20 December the government released the leading rebel general and 118 others. The Mercury and Witness condemned the release. In the autumn of 1916 there were rumours of another Afrikaner rebellion impending, yet by February 1917 all the imprisoned rebels were free. This was intolerable for the jingoes.”
Die suster van genl Jan Smuts, wat Botha spoedig as premier van die Unie sou opvolg, skryf aan hom uit Pietermaritzburg: “We have been here some time now, but like Natal less than ever. The majority of people here are extremists – either Jingoes or Nationalists – and we SAP supporters (who are few and far between) get no sympathy anywhere .. Isn’t the Witness poisonous?”
Die Saamwerk-Unie, oorkoepelende ligaam van Afrikaanse verenigings in Natal met Jansen as voorsitter, het De Afrikaner as mondstuk benut en heelwat ruimte daarin gekry. Hiervoor was die redakteur se vrou, die formidabele Mabel Jansen, verantwoordelik. Die eise van die bitsige politiek, kultuurwerk én koerantwerk was te veel vir Jansen en hy bedank ná net nege maande. Hy was teen dié tyd ook leier van die NP in Natal. Hy bly egter nog etlike maande aan as redakteur — totdat hy in 1921 tot die Volksraad verkies is — en tree toe finaal uit as redakteur. Tog bly hy aan as ‘n lid van die “kommissie van toesig” oor die blad en poog hy as leier van die NP in Natal om die blad uit te bou. In dié verband betreur hy Afrikaners se gebrekkige leesgewoontes en gevolglike swak ondersteuning van die blad.
Sy opvolger was dr. H.G. Viljoen. Ondanks regstreekse ondersteuning van die Nasionale Party, sukkel die blad. Viljoen is teruggeroep Kaapstad toe waar hy redakteur van Die Huisgenoot sou word en die vurige J.A. Smith van Ons Koerant op Graaff-Reinet is as Die Afrikaner se nuwe redakteur aangestel.
Deurgaans is pogings aangewend om die blad lewensvatbaar te maak deur samewerking met die Saamwerk-Unie te bevorder. Hierdie organisasie het ‘n bylae in die blad geborg, maar die beloofde intekenare op Die Afrikaner het nie gerealiseer nie en Jansen het die bylae gestaak.
Tydens ‘n besoek in 1923 aan die Natalse onderneming het die hoofbestuurder van Nasionale Pers, Willie Hofmeyr, ‘n ernstige gebrek aan belangstelling in Nasionale Pers se publikasies gevind. Ondanks besuiniging en reorganisasie is die onderneming nie as lewensvatbaar beskou nie. In Februarie 1925 is die “Natalse tak” van Nasionale Pers (soos Muller dit noem) aan Natalse Pers Bpk en die gewese redakteur John Ferreira verkoop. Die Afrikaner het nou ‘n nuwe eienaar gehad.
Volgens Prinsloo was Jansen onbewus van dié stap. Hy skryf: “Nadat hy (Jansen) daarvan gehoor het, het hy by die Algemene Bestuurder van Nasionale Pers beswaar gemaak. Sake wat hom gekwel het was die onttrekking van Nasionale Pers aan Natal, die aandele wat Natallers uitgeneem het om die winsgewendheid van Die Afrikaner te verhoog, en die 1917-klousule in die Herschensohnn-Jansen- en Van Reenenkontrak wat bepaal het dat die saak nie in Engelse hande mag val nie.”
Jansen was veral bekommerd dat Ferreira moontlik deur kapitaal van Engelssprekendes in staat gestel is om die koop moontlik te maak en dat dit later die redaksionele beleid en politieke standpunt van die blad kon beïnvloed. Volgens Prinsloo is Jansen se “onrustigheid” deur Smith, die redakteur van Die Afrikaner, en ander vooraanstaande Natalse Afrikaners gedeel. Hulle was van mening dat Nasionale Pers die Natallers in die steek gelaat het.
Ondanks Ferreira se beste pogings het die blad ‘n “ekonomiese noodtydperk in die gesig gestaar”. Prinsloo skryf: “Die Natalse tradisie van onwinsgewende Afrikaanse dagblaaie (sic) het Die Afrikaner in sy ses-en-veertigste jaar ingehaal. Dit het die winsgewendheid van die Natalse Pers begin ondermyn.”
Volgens Muller dui hierdie “vroeë episode” in die geskiedenis van Nasionale Pers op ‘n “onsuksesvolle poging om politieke en kulturele belange van die Afrikaner (in Natal) met die Nasionale Pers se finansiële belange te versoen”.
Positief gesien het Die Afrikaner onder Nasionale Pers se beheer “nuwe bloed in die Natalse joernalistiek gebring”, die maatskappy se ander produkte wyd bekend gestel en Afrikaans bevorder, aldus Muller. Die blad het reeds ‘n paar jaar voor Die Burger sy hoofartikels in Afrikaans gepubliseer.
Jansen, Viljoen en Smith het elk as redakteurs inspirerend oor die geskiedenis geskryf en ‘n eiewaarde onder lesers bevorder. Op politieke gebied was daar egter geen groot vordering nie. Ondanks sterk ondersteuning deur die koerant het die Natalse NP in die verkiesings van 1920, 1921 en 1924 nie deurbrake gemaak nie. Wel is die kiesafdeling Vryheid met groter meerderhede behou.
Die eerste premier van die Unie, genl. Louis Botha, se invloed het selfs na sy dood in die noordelike dele van Natal voortgeduur, maar hier het die NP sterker as elders in die provinsie gestaan. Die Suid-Afrikaanse Party van genl. Jan Smuts, wat Botha opgevolg het, die Unioniste en Arbeiders het die oorwegend Engelse Durban en Pietermaritzburg oorheers. Kortom, Natal was nie so ‘n vrugbare teelaarde vir Afrikanernasionalisme as die Wes-Kaap nie. Afrikaanssprekendes het immers ‘n heelwat kleiner komponent van die stemgeregtigde bevolking uitgemaak. En besighede was oorweldigend in Engelse besit. Hierdie realiteite sou ‘n negatiewe invloed op enige Afrikaanse persinisiatiewe hê.
Antagonisme jeens Afrikaners was sedert uniewording in 1910 ‘n wesenlike deel van die politieke landskap. Volgens Van Wyk was daar Engelssprekendes wat selfs tot in 1960 eerder wou dat Natal afskei as om met die res van die land (lees: blanke Afrikaners) saam te werk. Die unie was egter as eenheidstaat ‘n realiteit en het hul Britsgesindheid bedreig.
“In hul politieke onmag het hulle, veral onder aanstigting van koerante soos The Natal Witness en The Natal Advertiser, hatig teen die Afrikaner te velde getrek, wat hulle as agterlik beskou en op wie se taal en kultuur hulle neergesien het,” meen Van Wyk. Genl. J.B.M. Hertzog was vir hulle die toonbeeld van dit wat hulle nie in die Afrikaner kon verdra nie: sy hardnekkige aandrang op die behoud en uitbouing van sy eie, pleks van voor die “almagtige Britse kultuur” te buig.
“Op hom en ‘Hertzogisme’ het hulle hul pyle afgeskiet in ‘n poging om albei te vernietig. Dit het die teenoorgestelde reaksie uitgelok, want Hertzog het vurige aanhangers onder die Natalse Afrikaners gehad. Selfs leidende persoonlikhede, soos adv. E.G. Jansen, wat hart en siel ten gunste van die volkseenwording van Engelsman en Afrikaner was, het hom onder die Engelse aanslae by Hertzog geskaar …”
Prinsloo noem dat Jansen steeds ‘n pleitbesorger vir Die Afrikaner was en teen 1931 gehelp walgooi het ten einde die blad, wat te midde van die depressie erg in die moeilikheid was, aan die lewe te hou. Daar is selfs by die regering vir hulp aangeklop, maar die redakteur het sy saak effe beduiwel deur “kwetsende” opmerkings in ‘n hoofartikel jeens die regering te maak.
Tog pleit Jansen suksesvol by Hertzog en kry die blad ‘n hulpaanbod van 1 500 pond. Dit was wel veel minder as die 20 000 pond wat Ons Vaderland (die premier se gunstelingkoerant) ontvang het. Tog was dit ‘n welkome kapitaalinspuiting. Maar skaars ses maande later was die maatskappy weer in die verknorsing en sluit die blad in 1932.
By sy sluiting skryf die redakteur, P. Bruckhausen, emosioneel: “Dis nie ons volk — en nog minder die Nasionale Party — wat hom doodmaak nie, dis die kommersiële kanker. ‘Die Afrikaner’ het een troos en dit is, dat as die nasiestryd oorwin is, daar onder die segevierende ridders menigeen sal wees wat ‘n traan sal stort oor die broeder wat op die krygspad verlore en weggesleep is om in die keldergraf van geldsug te versmag.”
Die Volksblad het hulde gebring aan die buitengewone moed en volharding waarmee die blad die kultuurstryd in Natal gevoer het: “Elke opregte vaderlander kan met dankbaarheid terugdink aan die groot geestelike werk wat deur hierdie voorvegter vir die Afrikaanse taal en kultuur in ‘n onsimpatieke omgewing gedoen is. Met die afsterwe van Die Afrikaner het die Afrikaanse kultuurbeweging ‘n stryder verloor wat hy kwalik op hierdie kritieke tydstip kan mis en die Nasionale Party in Natal het ‘n voorvegter verloor wat veel gedoen het om die vuur van nasionalisme daar staande te hou …”
Om sy verliese te probeer dek, het die besturende direkteur van Die Afrikaner se drukker, J.T. Elliot, ‘n aanbod aan die tydskrif Die Voortrekker se redaksie gemaak en is die blad nou onder toesig van die Natalse Sinode as ‘n “Kristelik-Maatskaplike Weeknuusblad” met ‘n “ortodokskulturele strekking” uitgegee — maar tot onsteltenis van lede van die Saamwerk-Unie se hoofbestuur. Hulle het gemeen Elliot moes eerder hul (sukkelende) publikasie, Die Saamwerk,oorgeneem het.
Pogings om ‘n kerklike blad met opvoedkundige en geestelike fokus by lidmate te kry, was dus ‘n deurlopende tema. Gelyklopend daarmee is Die Saamwerk van die Saamwerk-Unie as geskikte leesstof onder Afrikaners bevorder. En was daar die onsuksesvolle pogings om ‘n kommersieel volhoubare politieke nuusblad te vestig. As die kerklike blad problematies was om uit te gee, soveel te meer ‘n gereelde nuusblad.
Die laaste redakteur van Die Afrikaner het nogmaals ‘n poging aangewend om ‘n Afrikaanse blad te vestig en stig Die Brandwag op Ladysmith. Dit bestaan net van Oktober 1932 tot April 1933. Daarna sou Die Volksblad van Bloemfontein die Natalse NP se amptelike mondstuk wees. Die Vaderland is ook op sekere dorpe versprei.
Die Natalse Afrikaner
Die naam Afrikaner sou egter voortleef. Van 1937 tot 1942 verskyn Die Natalse Afrikaner onder redakteurskap van die vorige redakteur en eienaar van Die Afrikaner. Die blad ondersteun egter nou die Verenigde Party en oorleef te midde van die erge meningsverskille wat die politieke toneel tydens die Tweede Wêreldoorlog oorheers het. Hou in gedagte dat Hertzog ‘n hele aantal Nasionaliste, insluitende E.G. Jansen, in ‘n koalisie en later samesmelting met die Suid-Afrikaanse Party van Smuts gelei het.
In Maart 1945 herleef die blad — weer as mondstuk van die VP. Die Nasionaliste van Natal was dus steeds sonder ‘n eie spreekbuis. Jansen en ander gewese Nasionaliste het intussen met D.F. Malan se NP herenig en Jansen tree weer na vore as ‘n NP-leier (nou Herenigde Nasionale Party, oftewel HNP, genoem). Daar is nogeens gesoek na ‘n koerant vir die party.
Die Natalse Afrikaner was ‘n ooglopende teiken, al was die redakteur ‘n VP-man. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het sy steun aan Jansen en sy partygenote gegee om ‘n blad te bekom. Onderhandelinge met sowel Nasionale Pers as Voortrekkerpers het egter op niks uitgeloop nie. In 1946 pleit Jansen weer by Voortrekkerpers om ‘n blad in Natal te begin — nogmaals sonder sukses.
Intussen het Die Natalse Afrikaner voortgegaan om die VP te ondersteun, maar teen 1951 was sy blus uit. Ook elders het VP-blaaie (soos Die Suiderstem) ná die oorwinning van die HNP in die 1948-verkiesing hul deure gesluit.
Afrikaners in ‘n knyptang
Met die bewindsoorname deur die (H)NP in 1948 het Afrikaners in Natal die slegste van twee wêrelde gehad. Hulle moes die bittere opposisie van die Engelssprekendes en hul pers verduur weens die NP-regering se beleidsrigtings (soos tweetaligheid in die staatsdiens), maar het provinsiaal onder ‘n Engelsgesinde VP-regering gestaan. So was dit ook in die stede, waar die Engelssprekendes oorheers het.
Afrikaanssprekendes was steeds ‘n minderheid in ‘n provinsie waar Afrikaans nie tot sy reg gekom het nie en veral nuwe aankomelinge het ‘n kultuurskok gekry as hulle van byvoorbeeld die Transvaal hierheen verplaas is. Hoewel Afrikaans op sommige dorpe vrylik gebruik is, was dit beslis nie in die twee stede die geval nie. Soos een (Afrikaanse) navorser dit stel:
“The new contact situation was radically different. For the first time ever he (die Afrikaner) found himself in a predominantly English cultural environment. Simultaneously a change in status occurred: from being a member of the numerically superior majority to being a member of a numerically very inferior minority. Adapting to such a situation proved to be fairly agonizing and traumatic.”
Die Afrikaanse diens van die SAUK het wel bygedra tot die vestiging van Afrikaans as taal van ‘n deel van die bevolking — voor die hand liggend, maar nie in Durban nie. So het die akteur en akademikus prof. Philip Grobler oor die opvoering van NP van Wyk Louw se Die held in die Durbanse ateljees van die SAUK gesê dit was belangrik omdat Afrikaners min kans gekry het om te wys dat Natal nie net Engels is nie.
In die dekades ná die Tweede Wêreldoorlog het groter Durban se Afrikaanse bevolking wel sodanig uitgebrei dat daar later ses Afrikaanse hoërskole was en talle Afrikaanse kerke versprei oor die stad, insluitende Pinetown en Amanzimtoti. Die Durbanse Onderwyserskollege het later tot stand gekom en bande is met die Vrystaatse Universiteit gesluit, en die NG Kerk het ‘n aftreeoord in die hartjie van Durban gebou.
In die middestad van Durban het ‘n nuwe gebou in Smithstraat, “Santamgebou”, menige Engelssprekendes laat kop krap. Die Durbanse Mannekoor onder dr. John Pauw was ‘n kultuurbaken. Daar was dus duidelike tekens van vooruitgang. Boonop het die vurige NG predikant Pierre Cronjé die band tussen kerk en party bevestig deur ‘n NP-politikus te word.
Die Nataller en Theo Gerdener
Maar in die 1950’s was ‘n omvattende stryd teen ‘n oormag nog ‘n wesenlike realiteit met die ideaal van republiekwording net ‘n toekomsdroom. Die behoefte aan ‘n spreekbuis vir Nasionaliste was daarom steeds wesenlik. Die stigting in 1955 van Die Nataller onder leiding van Theo Gerdener was, teen die agtergrond van die jare lange stryd om weer ‘n NP-mondstuk te hê, ‘n belangrike mylpaal.
Gerdener was agt jaar lank joernalis by Die Burger en drie jaar by Die Huisgenoot, waarna hy as vryskutjoernalis en as hoof van die NP se organisasie in Natal gewerk het. Hy was dus ‘n ervare joernalis én partyman. Gerdener is boonop as lid van die provinsiale raad verkies vir die kiesafdeling Dundee en was leier van die vier Nasionaliste in die Provinsiale Raad. “Daar het hy sterk tot die besef gekom van die geweldige agterstand wat Nasionaliste en Afrikaners in dié provinsie gehad het,” skryf A. Labuschagne in haar MA-verhandeling oor Gerdener se loopbaan.
Die Nataller, met Drakensbergpers as eienaar en vermoedelik die ondersteuning van Voortrekkerpers en Die Transvaler, was gemik op die groeiende Afrikaanse bevolking van die hawestad en Afrikaners wat oor die hele provinsie versprei was. Gerdener tree van 1955 tot 1959 op as redakteur, besturende direkteur en voorsitter van die direksie — dit terwyl hy steeds LPR en leier van die NP in die Provinsiale Raad was. In alle opsigte was Gerdener nou die voorste Nasionalis in die provinsie. In 1960 word hy egter as senator aangestel en ‘n jaar later as administrateur van Natal. Daarmee is sy regstreekse rol by Die Nataller beëindig.
In die eerste uitgawe van Die Nataller het dr. E.G. Jansen, nou goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, oor sy tyd as koerantredakteur geskryf:
“Destyds was daar nie soveel Afrikaanssprekendes in Natal as nou nie en dit het maar moeilik gegaan … Dit is bemoedigend om te weet dat daar weer ‘n blad in Afrikaans in Natal sal verskyn. Elke provinsie het sy eie Afrikaanse koerant(e} en daar is genoeg Afrikaanssprekendes in Natal om ook ‘n eie weekblad daar te regverdig”.
Die nuwe koerant was ‘n potensieel belangrike rolspeler, maar of dit ooit effektief was, is te betwyfel. Die perstoneel is steeds deur drie Engelstalige dagblaaie, die Daily News, Natal Mercury en Natal Witness, oorheers en Die Nataller se sirkulasie het nooit groot hoogtes bereik nie.
Volgens Wim van der Berg, wat ‘n redaksielid was, het Die Nataller hom aanvanklik op nuus uit die platteland toegespits. “Dit was immers waar die Afrikaanse getalle sterk gestaan het.” Wim het op sport gekonsentreer met die hulp van Ronnie Borain, ʼn Engelstalige provinsiale atleet, wat Wim dan vertaal het. Maar hoe dek mens uit Durban ‘n hele provinsie?
Van der Berg vertel verder: “Ons moes almal ons eie foto’s neem, en die negatiewe en drukwerk van die foto’s is gedoen deur Bruno Mtolo. Goed met sy werk en lekker om mee te gesels terwyl hy sy werk gedoen het. Hy was vantevore toegesluit, seker onder die Wet teen Terrorisme of so-iets, maar het daardie nonsens met sy vrylating laat staan. Ons het egter nooit daaroor gesels nie.”
Die blad is aanvanklik met die hulp van Belgiese (Vlaamse) setters in Umbilo, Durban, geset en Donderdagaande gedruk. Vrydae is dit dan oor die provinsie versprei.
As redakteur het Gerdener uiteraard ‘n sterk pro-NP-standpunte ingeneem en die Verenigde Party skerp aangeval. Maar dit kon kwalik ‘n indruk op die eentalig Engelssprekendes van Natal gemaak het wat nie bekend was as lesers van Afrikaanse koerante nie. Die omgekeerde was wel waar. Om ‘n stem te hoor wat hul saak stel, het die Afrikanerlesers waarskynlik wel bemoedig.
Gerdener het as politikus en redakteur ‘n negatiewe reputasie onder Engelssprekendes verwerf, wat hy gelukkig later as gewilde en bekwame administrateur kon omkeer. Moontlik het hierdie ervaring as administrateur (gelyk aan vandag se provinsiale premier) sy denke verbreed, want ná ‘n kort tyd as minister in John Vorster se kabinet tree Gerdener uit en stig die meer liberale of verligte Demokratiese Party (nie te verwar met die DP wat in 1989 gestig is en vandag voortleef in die Demokratiese Alliansie nie).
Ondanks Gerdener se sukses as administrateur, het dit steeds moeilik met Die Nataller gegaan. Charl Thom, een van Gerdener se opvolgers as redakteur, vertel: “Om ‘n Afrikaanse koerant in Natal uit te gee, was klippe kou en as ek reg onthou het ons weeklikse sirkulasie nooit ver verby 4 000 gekom nie.” Die later bekende historikus At van Wyk, die digtersanger Koos du Plessis en latere kerksakeverslaggewer by Rapport, Abraham Luckhoff, was ook by tye redaksielede. Die digter-akademikus Fanie Olivier het in die 1970’s as vryskut die kuns-en-boeke-blaaie hanteer. Hy vertel dat heelwat plek aan kunste afgestaan is en dat Naruk (die Natalse Raad van Uitvoerende Kunste) onder Chris Lombaard goue jare beleef het. Hierby het Afrikaanssprekendes baat gevind.
Barend Venter, wat Gerdener opgevolg het, het hom dit by geleentheid veroorloof om die Broederbond in ‘n kommentaarartikel te kritiseer en is summier as redakteur vervang en na Die Transvaler in Johannesburg verplaas. (Hy sou jare later redakteur van Oosterlig in Port Elizabeth word.) Metterwyl is al Thom se leermeesters weg en het hy op 24-jarige leeftyd redakteur van Die Nataller geword.
Die Nataller word Tempo
In 1968 het Voortrekkerpers beheer van Die Nataller gekry en twee jaar later kom Perskor onder Marius Jooste tot stand. So val Die Nataller nou onder Jooste, wat bekend was vir sy kommersiële benadering tot die koerantwese. Die Nataller maak daarom plek vir ‘n nuwe blad, Tempo, met die ervare Sammy Lake as redakteur en Thom nou as assistentredakteur. Nogeens was daar optimisme oor ‘n Afrikaanse blad — dié keer met sterk ondersteuning uit Johannesburg.
In die vroeë 1970’s is Die Transvaler op die rakke van sommige boekwinkels in Durban gevind en sedert 1974 die Transvaalse dagblad Beeld, wat verkope onder Durban se Afrikaanse lesers gesoek het. Dit was gaaf om ‘n Afrikaanse dagblad in talle winkels in Durban te hê, maar dit het nie die Afrikaanse gemeenskap regtig gedien soos wat ‘n eg-Natalse blad dit sou kon doen nie.
Daarvoor was ‘n lewenskragtige gemeenskapskoerant nodig, wat Die Nataller of Tempo nooit volhoubaar was nie — ondanks die moedige werk deur advertensiemanne soos Hans Wessels, wat die sypaadjies stof getraf het op soek na advertensies by (Engelssprekende) sakemanne wat geen erg aan ‘n Afrikaanse koerant met beperkte sirkulasie gehad het nie. Durban se Engelstalige dagblaaie asook die plaaslike Sondagkoerant, die Sunday Tribune, het byna alle advertensiebesteding opgeslurp. Die markpenetrasie van Die Natalleren Tempo was net nooit sterk genoeg nie.
Met die sluiting van Tempo onder Perskor se eienaarskap, is Nasionale Pers se onttrekking uit Natal soveel jare gelede herhaal. Perskor sou wel Republikeinse Pers, met sy hoofkantoor in die suide van Durban, in 1974 oorneem. Dié onderneming is deur die Hymans tot stand gebring op die rug van die sukses van fotoboekies (Mark Condor en ander). Hulle het ook ‘n hele aantal tydskrifte uitgegee, waaronder die Afrikaanse Keur en Ster.
Maar die fotoboekies en tydskrifte was suiwer kommersiële publikasies. Perskor se oorname daarvan (en latere verkoop aan Caxton in die 1990’s) was eweneens suiwer kommersieel gedrewe.
Gelukkig is die kom en gaan van koerante en tydskrifte nie die enigste barometer van sukses nie. Wel was hulle vir lank simbole én ondersteuners van Afrikaners se pogings — soms met sukses — om in Natal ‘n regmatige staanplek te verwerf. Dié bydrae kan seker as betekenisvol aangeteken word. Daarom verdien die joernaliste wat hierdie ongelyke stryd gestry het ‘n stukkie erkenning.